UITSLAG: Kiwi’s verslaan Eagles

Krieket
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Nieu-Seeland (163/4) het Namibië (111/7) Vrydag oortuigend met 52 lopies in hul T20 Wêreldbeker-wedstryd in Sjarjah geklop.
’n Antiklimaktiese wedstryd vir die Eagles, wat hulself op deurslaggewende oomblikke in beide spanne se kolfbeurte in die steek gelaat het.
Nieu-Seeland klim tot tweede op die puntelys van groep 2 en hoef net sy laaste wedstryd teen Afghanistan te wen om na die semifinaal te vorder – andersins sal beide Afghanistan en Indië nog ’n kans staan om op netto lopietempo tweede ná Pakistan te eindig.
Jimmy Neesham (35* van 23 balle en 1/6) word as speler van die wedstryd aangewys.
Vir Namibië het Stephen Baard (21 van 22 balle) en Michael van Lingen (25 van 26 balle) die span se beste vertoning van die toernooi tydens die kragspel (eerste ses boulbeurte, 36/0) gelewer, maar die vereiste lopietempo het algaande buite bereik geraak.
Daar was enkele opflikkerings toe Van Lingen, Zane Green (23 van 27 balle) en David Wiese (16 van 17 balle) elkeen een ses geslaan het, maar Namibië is met akkurate boulwerk eenvoudig nooit toegelaat om die agterstand in te haal nie.
Vreemd genoeg is Craig Williams (0 van 2 balle) eers as nommer agt ingestuur, met minder as twee boulbeurte oor en geen kans meer om die verloop van sake om te keer nie. JJ Smit kon met 9* van 17 balle (1x4) ook nie veel uitgerig kry nie.
Gerhard Erasmus, kaptein, sê agterna: “Ons het vir 15-16 boulbeurte goed gevaar, maar die laaste deurslaggewende boulbeurte het nie in ons guns verloop nie.
“Ons het nog een wedstryd oor om dit te probeer regmaak, teen Indië (Maandag). Dit was nogal ’n moeilike kolfblad en 160 was bietjie te veel om op hierdie kolfblad te jaag.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer