Uitgespoelde liggaam uitgeken
Uitgespoelde liggaam uitgeken

Uitgespoelde liggaam uitgeken

Die polisie het rede om te glo die man het selfmoord gepleeg.
Kristien Kruger
Kristien Kruger

’n Familie van Swakopmund het Maandag na die polisiekantoor gegaan om ’n vermiste familielid aan te meld. Die polisie het hulle gevra om ’n lyk te identifiseer wat laas Vrydag op die strand naby Platz Am Meer-inkoopsentrum uitgespoel het.

Volgens die polisieverslag het drie vissermanne omstreeks 11:00 op die liggaam afgekom. Die liggaam was na die lykshuis geneem en die polisie het die publiek ingelig in die hoop dat die liggaam uitgeken kon word.

Volgens adj.komm. Erastus Iikuyu, koördineerder van misdaadondersoeke in die Erongostreek, is die liggaam geïdentifiseer as die 33-jarige Elieser Kamuserandu, ’n inwoner van die Mondesa informele nedersetting.

Volgens Iikuyu het Kamuserandu die vorige Woensdag by die huis stry met ’n familielid opgetel.

“Hy het Woensdag die huis verlaat en Donderdag glo sy ma gebel en gesê sy moet nie geskok wees as hulle slegte nuus oor hom ontvang nie,” het Iikuyu gesê.

Die polisie vermoed dat Kamuserandu selfmoord gepleeg het deur in die see in te loop. Die ondersoek duur egter voort.

“Hy het nie ’n selfmoordbrief agtergelaat nie en die nadoodse ondersoek moet steeds bevestig presies hoe hy dood is,” het Iikuyu gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer