Uiteindelik vry van dwelms
Henriette Lamprecht
Die eerste keer wat hy “crack” gebruik het, was hy verslaaf. Hy sou uiteindelik op straat beland waar hy voor winkelsentrums vir kleingeld gebedel het.
Dit was ’n verslawing wat hom onder meer sy werk en die verhouding met sy seuntjie en familie sou kos en hom sewe jaar van sy lewe agter tralies laat deurbring.
Vandag is die 36-jarige Mario Diergaardt skoon en is hy nóú betrokke by die Khomasdal Baptiste Kerk se uitreikaktiwiteite onder die jeug en ook na gevangenes.
Mario beskryf “crack” as ’n soliede vorm van kokaïen. “Dit word gemaak van kokaïenpoeier, dus in plaas daarvan om die poeier te snuif, kan dit deur ’n metaalpypie gerook word. Dit gee jou ’n kort, baie hoë ‘high’ en laat jou hiperaktief en vol energie voel," vertel Mario.
“Jy slaap baie moeilik nadat jy dit gebruik het en kan vir dae aaneen wakker bly.”
Die straatwaarde vir “crack” is N$100 vir een “hit” wat net 10 tot 15 minute hou, sê hy.
“Op ’n aand kan jy tot soveel as 15 ‘hits’ koop wat jou N$1 500 uit die sak jaag.”
Mario het in ’n nagklub in Windhoek vir die eerste keer met “crack” kennis gemaak.
“’n Meisie wat ’n gebruiker was en wat ek hier ontmoet het, het my gevra of ek nie ook wil probeer nie.”
Net een keer se eksperimenteer was genoeg vir die dwelm om sy kloue in Mario te slaan. Binne die eerste maand van sy verslawing het hy sy werk verloor nadat hy geld by sy werkgewer begin steel het. Ook het sy verhouding met sy familie en vriende begin versleg en het hy nie meer aandag aan sy kind gegee nie.
“Ek het teruggetrokke geraak en dinge in die geheim begin doen.”
Mario het van sy klere en skoene begin verkoop om geld vir dwelms te kry. Later sou hy enigiets van waarde wat hy in die hande kon kry, verkoop en het hy selfs skelm goed uit die huis gevat om te verkwansel.
“My familie wou my nie meer by die huis gehad het nie. Hulle kon my nie meer vertrou nie en het my nooit meer alleen by die huis gelos nie.”
Selfs al sou hy net toilet toe gaan, moes iemand agter hom aanloop om seker te maak hy steel nie iets nie.
Windhoek se strate het Mario se huis geword. Hier het hy in vullisdromme gekrap vir iets om te eet, terwyl hy snags langs of naby vulstasies geslaap het. Soms het hy selfs by die polisiekantore gaan slaap.
“Ek het voor winkelsentrums in Windhoek begin rondhang en vir kleingeld gebedel. ’n Mens dink altyd as jy iemand op straat sien bedel, dit sal nooit met jou gebeur nie. Ek het ook so gedink.”
Mario het daagliks agteruit gegaan en kort voor lank het hy in die tronk beland. Vandag weet hy dwelms vat jou na een van drie plekke.
“Jy beland in die hospitaal weens ’n oordosis; jy beland in die tronk weens jou betrokkenheid by dwelms; of jy beland in die graf.”
Liewers in die tronk of hospitaal, sê Mario. Want dit is ’n teken dat jy dadelik moet begin baklei teen die dwelms, anders is daar geen ander einde as die graf nie.
Twee keer in sy lewe wou hy sy eie lewe neem, twee keer het hy in die tronk beland, vertel Mario. Hy het sewe jaar van sy lewe agter tralies vir misdade deurgebring wat winkeldiefstal, bedrog, diefstal, gewapende roof, huisbraak en die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie insluit.
“Ek is as ’n hopelose geval bestempel. Mense het gesê ek sal nooit regkom nie.”
Hy beskryf sy ommekeer aan die hand van die gelykenis van die verlore seun in die Bybel wat tussen die varke beland het en wat besluit het “ek sal opstaan en na my Vader se huis terugkeer”.
“Die sleutel tot jou deurbraak lê daarin dat jy na jouself, binne jouself, moet kyk. Die verlore seun het hom uit die vark se put gepraat, hy het gesê hy sal opstaan. Jy moet jouself uit verslawing praat. Net jy kan jouself uit dwelmverslawing kry.”
Mario maan om nie die skuld by ander te gaan soek nie en dat jy verantwoordelikheid vir jou dade moet aanvaar.
“Ek het die Here aangeroep, want Hy sê in die dag van jou benoudheid moet jy Hom roep en Hy sal jou help en jy moet Hom eer.”
Die enigste manier om vry van dwelms te bly, is om naby die Here te bly, sê Mario.
“Raak aktief betrokke in die kerk en gemeenskap. Pasop waarmee jy jou gedagtes besig hou. Die Here het my skoon gewas en Hy sal my skoon hou.”
Sy raad aan familie en vriende wat iemand in ’n dwelmstrik het, is om vir hul geliefdes te bid.
“Moet nooit ophou vir hulle bid nie. Die stryd is hard, maar saam met die Here sál julle ’n oorwinning kry.”
• [email protected], 081 849 2026

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie