Uhlenhorst-boere is weer bobaasbraaiers

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg op Okahandja - Uhlenhorst Boerevereniging (BV) het Saterdag op Okahandja vir die vierde keer die interboerevereninging braaikompetisie gewen met Hochfeld BV die naaswenners en Aroab BV in die derde plek.
Dieselfde braaispan van Uhlenhorst wat bestaan uit Hoekus van Niekerk en Waldo en Corinne van Wyk was ook in 2013 as die kampioenbraaiers gekroon. Vanjaar het die spanne uit vier lede bestaan en Jaco Booysen het by hul span aangesluit.
Weens die droogte het net agt boereverenigings vanjaar aan die Namibië Landbou-unie (NLU) se Agri Braaikompetisie deelgeneem, naamlik Araob, Dordabis, Epukiro, Leonardville, Hochfeld, Omuramba, Witvlei en Uhlenhorst. Elf sosiale spanne het by hulle aangesluit vir húl kompetisie. Die wenners van die sosiale spanne is Windhoek Livestock Auctioneers (WLA), die NLU en die Voermeester-skopgrawe.
Die BV-wenner het N$30 000 gewen en die sosiale span N$10 000.
Volgens Okahandja BV het meer as 2 000 besoekers Vrydag en Saterdag deur die hekke van die Okahandja Reitklub gestroom waar baie vermaak vir oud en jonk die naweek verskaf is.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer