Uganda kom speel reeks in April

Krieket
Krieket Namibië het pas die Castle Lite inkomende reeks bevestig wat van 2 tot 9 April by Wanderers se veld in Windhoek gespeel sal word.
Die Eagles sal die Kraanvoëls van Uganda in ’n internasionale reeks T20- en eendagwedstryde (50 boulbeurte per span) die stryd aansê.
Die Eagles-spelers was die afgelope tyd aktief in wedstryde vir hul klubs betrokke en die komende Castle Lite-reeks sal waardevolle wedstrydgeleentheid bied in die opbou na toernooie in Julie, Augustus en September en uiteindelik die T20 Wêreldbeker in Oktobermaand in Indië.
Krieket Namibië se uitvoerende hoof, mnr. Johan Muller, sê: “Krieket Namibië is verheug om sy terugkeer tot die internasionale spel op die tuisfront te kan maak.
“Sport maak oor die wêreld heen ’n terugkeer en deur die instelling van regulasies teen Covid-19 kan toere en toernooie weer hervat.
“Ons spreek dank uit teenoor Uganda wat die geleentheid aangryp om na Namibië te reis. Ons sien uit om op die speelveld ’n sterk uitdaging van hoëvlak krieket te sien.
“Onder die huidige regulasies sal ongelukkig geen toeskouers toegelaat kan word nie, maar ons sal opwindende maniere aankondig hoe belangstellendes elke oomblik van die aksie op digitale platforms sal kan volg.”
Die Eagles se hoofafrigter Pierre de Bruyn sê: “Ons het geen internasionale wedstryde gespeel sedert Februarie laas jaar, toe ons in Pretoria teen die Ierse A-span, die Wolwe, in aksie was nie.
“Ons is opgewonde om die Uganda-span vir ’n kort toer te kan ontvang. Die spelers het tydens die inperking hard geoefen en hierdie is ’n fantastiese geleentheid om hul vaardighede uit te stal.
“In die opbou na die T20 Wêreldbeker is elke wedstryd van sleutelbelang sodat ons nuwe kombinasies kan toets en ook om spelers op die rand van insluiting deur te kyk.
Die Uganda Krieketvereniging se uitvoerende hoof, Martin Ondeko, sê: “Die Covid-situasie het almal geraak en sport is ook nie gespaar nie. Ons is verheug dat ons uiteindelik ná meer as ’n jaar op koers is om tot internasionale wedstryde terug te keer. Dit is ’n vooruitsig om wedstryde teen Namibië – ’n land met internasionale eendagstatus – te kan speel.
“Ons het spesiale waardering dat Krieket Namibië ingestem het om gasheer vir Uganda te wees en ek glo dat beide nasies voordeel uit hierdie ontmoeting sal put.
“Ons span kry kans om hulle buite hul bekende omgewing te toets. Ter voorbereiding op ons latere verpligtinge moet ons hiermee ’n opname van ons vordering maak – veral noudat ons ’n nuwe afrigter aan boord het.”
Uganda se hoofafrigter Laurence Mahatlane, wat in Junie 2020 aangestel is nadat hy tevore Suid-Afrika se o.19 Wêreldbekerspan afgerig het, sê: “Vir ons is hierdie ’n opwinde toer, omdat die Namibiese span is waar ons wil wees.
“Ons het dus die kans om ons vlak te meet teen ’n span met ODI-status, om te sien waaraan ons nog moet werk. Ons het vyf maande oor voordat ons ’n toer na Jersey aanpak.”
Krieket Namibië sê hy sal die wedstrydskedule op 25 Maart bekend maak en die aankondiging van die Eagles-spelersgroep vier dae later.

FOTO’s
Die draaibouler Frank Nsubuga en die kolwer Brian Masaba, Uganda se huidige spankaptein, in aksie tydens die 2014 kwalifiserende Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland. Foto’s Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer