U-draai-verdagte bly in aanhouding

’n Man wat Dinsdag aangekla is van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur, het sy eerste hofverskyning gemaak.
Adolf Kaure
Adolf Kaure op Swakopmund – ’n Zimbabwiese vragmotorbestuurder, mnr. Takudzwa Blessing Marimo (23), het Woensdag sy eerste verskyning in die landdroshof op Swakopmund gemaak. Hy staan tereg op klagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.

Die beskuldigde sal by die polisieselle op Swakopmund aangehou word tot sy formele borgtogverhoor op 9 Augustus.

Landdros Conchita Olivier het die beskuldigde se aansoek om borgtog van die hand gewys nadat die staataanklaer Beata Mwehi dit teengestaan het.

“Ons is bang die beskuldigde kan op die vlug slaan, omdat hy ’n buitelander is,” het Mwehi gesê.

Sy arrestasie volg nadat ’n 49-jarige man, wat as mnr. Festus Jason Amukuaya geïdentifiseer is, dood is in die ongeluk wat Dinsdagoggend op die C34-hoofpad plaasgevind het, toe die motor wat hy bestuur het met ’n vragmotor gebots het wat na bewering besig was om ’n U-draai te maak.

Die beskuldigde se regsverteenwoordiger is me. Beatrix Boois van BB Boois Attorneys.

Die beskuldigde het die Freightliner-vragmotor met ’n sleepwa bestuur, wat na bewering op ’n verkeerde roete vanaf Walvisbaai onderweg na Zimbabwe afgedraai het.

Terwyl hy buite Hentiesbaai gery het, het Marimo glo ’n oproep ontvang dat hy op die verkeerde pad is en terug Swakopmund toe moet draai. Volgens polisieverslae het Marimo probeer omdraai en terwyl hy hiermee besig was, het hy ’n motor van Swakopmund se kant sien aankom, maar hy kon nie die ongeluk verhinder nie.

Die wit dubbelkajuitbakkie wat aan die ministerie van sport, jeug en nasionale dienste behoort het, het met die sleepwa gebots.

Die bestuurder is op die toneel dood verklaar.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer