Tyson tranerig oor hy nie meer boks
Tyson tranerig oor hy nie meer boks

Tyson tranerig oor hy nie meer boks

Boks
Michael Green - “Iron” Mike Tyson het tydens ’n onlangse podsending begin huil omdat hy dit so mis om te boks.

Tyson was besig om met nog ’n voormalige bokskampioen, Sugar Ray Leonard, op sy Hotboxin’-podsending te gesels toe die trane begin rol het.

“Ek is ’n f***** student van oorlogvoering. Dis waarom ek so gewild was in die kryt,” het die 53-jarige Tyson volgens newshub.co.nz gesê.

“Ek was ’n verwoester; dit is al waarvoor ek gebore is. Nou is daardie dae verby. Dit (sy lewe) is leeg, ek is niks. Ek werk aan die kuns van hoe om nederig te wees.”

Tyson het aan Leonard gesê hy huil omdat hy nie “meer dáárdie persoon” is nie.

Hy het egter bygevoeg dat hy ook “bang is vir dáárdie ou” en dat hy daardie weergawe (die jonger Tyson) haat.

Tyson was net 19 jaar oud toe hy die Wêreldboksraad se swaargewigtitel in 1986 by Trevor Berbick afgeneem het.

Hy het ’n skrikbewind in die swaargewigafdeling gevoer totdat Buster Douglas hom in 1990 ’n vernietigende nederlaag toegedien het.

Tyson se lewe het daarna ’n paar wilde draaie geneem. Hy was onder meer in die tronk vir verkragting en later, toe hy weer begin boks het, het hy ’n stuk van Evander Holyfield se oor afgebyt.

Sy laaste geveg in Junie van 2005 was ’n laagtepunt. Tyson het die destydse Ierse kampioen, Kevin McBride, se arm probeer breek en hy was teen die einde van die sesde ronde te moeg om verder te baklei.

Hy het 50 gevegte in die beroepskryt gewen en ses verloor. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer