Tyson onthul vegdatum teen oudlegende
Boks
Mike Tyson sal sy veelbesproke terugkeer na die bokskryt in September teen een van die beste boksers van die moderne era maak.
Ná maande se bespiegeling het Tyson (54) bevestig dat hy op 12 September in Los Angeles in ’n vertoongeveg teen Roy Jones Junior (51) te staan sal kom.
Jones het in sy fleur wêreldtitels in vier gewigsafdelings gewen – swaargewig, ligswaargewig, supermiddelgewig en middelgewig. Hy was die eerste middelgewig in 106 jaar wat ook ’n swaargewig-wêreldtitel kon verower.
Hy het nooit amptelik sy uittrede aangekondig nie, maar is deesdae meer as kommentator doenig.
Sy laaste geveg was in Augustus 2018 toe hy Scott Sigmon met punte verslaan het.
In sy beste dae het Jones se handspoed, reflekse en flinke bewegings hom op vele waarnemers se lys van voorste pond-vir-pond vegters ter wêreld geplaas. Hy het onder meer in 1999 die ligswaargewigklas se vier betekenisvolle titels verenig deur die gordels van die WBA, WBO, WBC én IBF te wen.
Jones se rekord as beroepsvegter staan op 66 oorwinnings, met 47 uitklophoue, teenoor nege nederlae waarin hy vyf keer uitgeslaan is.
Hierteenoor het Tyson sy stormagtige loopbaan in 2005 afgesluit met 50 oorwinnings (44 uitklophoue) en ses nederlae (hy is vyf keer uitgeslaan).
Tyson het in ’n onderhoud met TMZ Live vertel hoe dit gebeur het dat hy en Jones gaan boks.
“My swaer het gesê: ‘Haai luister, ek weet jy wil nie veg nie, maar sal jy daarvan hou om teen Bob Sapp (’n gemengde gevegskunstenaar) te baklei? Iemand wil jou baie geld betaal om dit te doen,’ ” sê Tyson.
“Ek het gesê: ‘Nee, ek het jou gesê ek wil nie meer veg nie!’ En toe dink ek daaroor en ... ek het gesê ek sal wel veg (teen Sapp, met boksreëls) en om die een of ander rede verander dit toe van Bob Sapp na iemand anders en toe dié ou en toe daai ou en toe ek weer sien, boks ek teen Roy Jones Junior!”
Volgens Tyson sal verskeie liefdadigheidsorganisasies by die geveg baat vind.
“Ek kry niks (geld) nie. Ek voel net goed om dit te doen en omdat ek dit kán doen,” sê hy.
Hoewel albei boksers lankal nie meer die vegters is wat hulle was nie, kan dit vir seker ’n vermaaklike geveg wees.
“Enigiemand wat my ken, sal weet dat ek nie weet hoe om terug te hou nie. Ek ken net een manier van veg,” waarsku Tyson.
“En nou doen ek dit met nog meer geesdrif, want ek weet ek doen dit vir iemand anders!” – Boxing Scene, Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie