Tyd se gang kan hoop nie breek
Tyd se gang kan hoop nie breek

Tyd se gang kan hoop nie breek

Henriette Lamprecht
“It was the best of time, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of light, it was the season of darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair,” skryf Charles Dickens in A Tale of Two Cities met verwysing na die tyd van die Franse Rewolusie.

Vir die eerste keer in 1859 gepubliseer, kan Dickens se historiese fiksie en wat gereeld beskou word as die topverkoper van alle tye, net sowel in die jaar 2020 geskryf gewees het.

Dit was die jaar wat vir jare en jare daarna steeds onthou sal word as die een wat die wêreld en sy rumoer tot stilstand geruk het. Strate, markte, teaters, skole en sportvelde wat gewoonlik ruis met die geluid van stemme, toeters, fluitjies en applous, stil en leeg gelaat het. Sonder dit wat ons méns maak – gemeenskap en deelwees.

Nooit weer sal ons dinge vanselfsprekend aanvaar nie, predik en beloof ons. Nooit weer kla en mor oor die Maandag-gewoel om ons kinders betyds by die skool ná ’n naweek se laatslaap te kry nie. Die weeklikse personeelvergadering met kollegas wat vriende en familie geword het almal om en oorkant jou, naby jou. ’n Laat middagete op ’n Saterdagmiddag met ’n hartsvriendin. ’n Dwaal deur ’n mark met vars plaaseiers en tuisgemaakte beskuit en gebreide vatlappe en ’n wafel op ’n stokkie. ’n Kerkdiens op ’n Sondag en die heilige gemeenskap saam met die wat glo en bid soos jy. ’n Vashoudruk, ’n soen op die wang. Menslike kontak. Saam wéés.

Dit was die jaar wat die hoekstene en basis van wat ons altyd as vanselfsprekend en as ’n gegewe aanvaar het vir altyd verskuif het. Dit het ’n gevoel van verlies veroorsaak, angs, stres en vrees vir wat die dag van môre vir hulle en hul geliefdes gaan inhou.

In hierdie buitengewone jaar het ek die voorreg gehad om buitengewone mense te ontmoet. Mense wat geleenthede gesien en gegryp het waar ander struikelblokke gesien het. Mense wat hul eie afsondering en eensaamheid gebruik het om uit te reik na ander. Mense wat nie die krag besef het wat in hulle skuil nie en dit gebruik om dae wat donker en doelloos voor hulle lê, steeds met moed aan te pak. Die lesse was baie, die grootste daarvan buiten die liefde, die wete dat ’n mens sterker is as wat jy dink. Dat wanneer jy dink jy kan nie meer nie, jy steeds iets in jou het om aan te hou. Aan te hou hoop, aan te hou glo dat die goeie altyd oor die bose sal seëvier.

My hoop en wens vir elke liewe leser, maar veral vir die vir wie verlies hierdie jaar se grootste onthou is, hetsy ’n geliefde of ’n besigheid, is Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan. Mag julle dit regtig vóél en van wéét. En dan, mag ons die nuwe jaar ingaan soos ou vriende doen. . .

“Jy en ek kan deel in liefde Ons kan rus in die wete Soos ou vriende doen En selfs deur pyn en misverstande Kan ons glo in ons drome Soos ou vriende doen Is daar lig of is dit donker Ons bly altyd aanhou sien Tyd se gang kan hoop nie breek nie Ons sal saamreis na môre Soos ou vriende doen.”

Kommentaar

Republikein 2026-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer