Twiet, twiet, twiet
Twiet, twiet, twiet

Twiet, twiet, twiet

Twitter, wat al hoe meer sukkel om nuwe gebruikers te lok, gaan in 'n eksperiment 'n klein groep gebruikers toelaat om tot 280 karakters te twiet – dubbel die huidige 140 karakters.
Aliza Rosen en Iku­hiro Ihara, on­der­skeidelik Twitter se produkbestuurder en senior ontwikkelaar, het Dinsdag in 'n blog geskryf in tale waarin mense hulself makliker binne 140 karakters kan uitdruk, twiet méér mense. “Ons navorsing wys dat die ­karakterperk 'n groot frustrasie is vir mense wat in Engels twiet.”

In 'n vergelyking tussen Engels en Japannees, is bevind 9% van alle Engelse twiets gebruik elkeen van die 140 karakters. Daarteenoor gebruik net 0,4% van Japannese twiets al 140 karakters.

Engelse twiets is gemiddeld 34 karakters lank en Japannese twiets 15 karakters, 'n aanduiding dat jy meer as dubbel soveel karakters nodig het om iets sinvols te sê in 'n taal soos Engels. Ons wil hê mense oor die wêreld heen moet hulself maklik op Twitter kan uitdruk.

Aliza Rosen
Rosen sê in Engels is dit moeiliker om binne 140 karakters te bly, terwyl haar kollega in Japannees sy gedagtes kan deel “met plek oor”. “Dis omdat jy dubbel soveel inligting in een karakter kan oordra in tale soos Japannees, Koreaans en Chinees as in baie ander tale soos Engels, Spaans, Portugees of Frans.

“Ons wil hê mense oor die wêreld heen moet hulself maklik op Twitter kan uitdruk.”

Twitter sê nie hoe groot die toetsgroep gaan wees of hoe lank die eksperiment gaan duur nie. Inligting uit die toetsgroep gaan bepaal of dit uitgebrei word.

Rosen en Ihara beklemtoon dat die aard van Twitter nie gaan verander nie. “Twitter gaan oor bondigheid. Dis wat dit so 'n puik manier maak om te sien wat aangaan. Twiets kom tot die punt met die inligting of gedagtes wat saak maak. Dis iets wat ons nooit sal verander nie.”

Hulle besef sommige mense wat al lank twiet, is dalk emosioneel verknog aan die 140 karakters.

Twitter het so 'n paar jaar gelede wel die perk subtiel vermeerder deur nie webskakels en foto's wat by twiets aangehaak word, as karakters te tel nie. Dit het die lewe vir nuuswebwerwe en navorsers aansienlik vergemaklik omdat skakels na artikels met meer inligting daarin gedeel kon word.

Baie mense gebruik ook foto's of skermgrepe van teks om hul twiets uit te brei.

Trae groei
Twitter het in die tweede kwartaal van die jaar 328 miljoen aktiewe maandelikse gebruikers gehad, 5% meer as 'n jaar vantevore, maar onveranderd sedert die eerste kwartaal.

Dié trae groei in gebruikers het aandeelhouers bekommerd.

Die maatskappy se aandeelprys het Dinsdag op US$16,59 gesluit, wat die maatskappy 'n markwaarde van US$12,242 miljard gee. Die opbrengs op die aandeel het oor die afgelope 12 maande met byna 31% geval.

Richard Greenfield, 'n ontleder van BTIG, 'n batebestuursmaatskappy van San Francisco, het aan Bloomberg gesê die opheffing van die perk kan betrokkenheid by Twitter aanmoedig: “140 karakters is geskep toe ons oopklapfone en klein skerms gehad het. Skerms het vergroot, en dit voel tog al hoe meer soos 'n arbitrêre perk.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-08-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer