Twee weke oue baba weggegooi
Twee weke oue baba weggegooi

Twee weke oue baba weggegooi

Die naweek het die Namibiese polisie hul hande vol gehad met alles van beweerde mesaanvalle en verkragtings tot 'n rooftog aan die kus.
Tanja Bause
Tanja Bause



Saterdag is 'n twee weke oue baba­meisie in 'n ­rivierbedding in die Babylon- informele ­nedersetting in Windhoek ontdek.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het 'n voetganger die baba om 07:00 hoor huil en in die bosse gevind.

Die baba is in die Katutura-staatshospitaal opgeneem.

Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die polisie vra die gemeenskap se hulp met die opsporing van die ma.



Mesdood

Me. Franciss van Rhyn se kêrel het haar glo ná 'n stryery met 'n mes doodgesteek. Die voorval het na wat verneem word Sondag om 01:00 in Karasburg by die Rooideur-sjebeen plaasgevind. 'n Verdagte (33) is in ­hegtenis geneem.

In nog 'n voorval van geslags­gebaseerde geweld is mnr. Moses Diba (45) glo met 'n mes doodgesteek. 'n Man (20) het die mes na bewering by die slagoffer gegryp. Diba was glo besig om sy eksmeisie aan te rand. Volgens die polisie het die verdagte vir Diba in sy bors gesteek, waarna hy op die toneel gesterf het.

Die voorval het na wat verneem word Vrydag omstreeks 22:30 in Keetmanshoop by die Berlino-drankwinkel plaasgevind.



Verkragting

'n Ouma, wat besig was om haar vyfjarige kleinkind te bad, het glo kneusplekke aan haar ­geslagsdele opgemerk. Die kind het beweer 'n beesoppasser het haar verkrag. Die 20-jarige man is hierna in hegtenis geneem. Die voorval het in die ­Oshanastreek plaasgevind.

Saterdag omstreeks 06:30 het 'n 22-jarige man 'n 19-jarige vrou in Block-G, in Rehoboth, glo aan haar hare gegryp en die bosse ingesleep. Hy het haar glo op die grond neer­gegooi en wou haar verkrag.

Sy is na wat verneem word geslaan en gedreig. 'n Verbyganger het glo tot haar redding gekom en die verdagte aangerand.

Die verdagte is in hegtenis geneem en vir behandeling in die Windhoek-staatshospitaal opgeneem.



Kind brand dood

Die tweejarige Maveja Tjingee het Vrydag om 18:58 in 'n tent in die Ohandungu-nedersetting by Opuwo doodgebrand.

Die oorsaak van die brand is nie bekend nie, maar daar was vermoedelik vuurhoutjies saam met hom in die tent. Die polisieondersoek duur voort.



Roof

Vrydag tussen 12:30 en 13:15 het vier gewapende mans na bewering toegang tot die Aucor-onderneming in Swakopmund se nywerheidsgebied gekry, mense aangehou en die besigheid beroof.

Die mans, wat glo klapmusse gedra het, het na wat verneem word drie ­veiligheidswagte, twee werkers, die bestuurder en sy dogter met 'n pistool en mes aangehou.

Hul hande is met kleefband vas­gebind en geld is van hulle geëis.

Sowat N$350 000, 'n skootrekenaar en vier selfone is na bewering gesteel, waarna die mans glo met die bestuurder se bakkie op die vlug geslaan het.

Die polisie het die bakkie, glo met die sleutels nog binne-in, in die ­Tamariskia-woonbuurt gevind.

Kommentaar

Republikein 2026-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer