Twee vas weens omkopery

'n Pakistani wat op borgtog was op klagte van mensehandel en verkragting, is op Swakop­mund saam met 'n Walvisbaaise polisiebeampte in hegtenis geneem.
Erwin Leuschner
Erwin Leuschner



Die twee beskuldigdes wat weens klagte van omkopery en korrupsie aangekla word, mnr. Farhan Khatri (31) en speuradjudantoffisier Jafet Simon, is Woensdag borgtog in die Swakopmundse landdroshof geweier.

Khatri is die bestuurder van die voertuighandelaar Jan Japan Motors op Walvisbaai en Simon is 'n hooggeplaaste ondersoekbeampte op Walvisbaai.

Die Allgemeine Zeitung, Republikein se susterkoerant, het van betroubare bronne verneem die twee mans het sowat drie weke gelede die staatsaanklaer op Swakopmund genader. Hulle het geëis dat Khatri se paspoort, waarop beslag gelê is, aan hom terugbesorg word.

Hierbenewens wou hulle hê die staatsaanklaer moes tydens die verhoor in die saak oor mensehandel en verkragting, die getuies in die hof doelbewus in sy guns manipuleer. Die vervolging sou glo dan misluk en die Pakistani sou vrygespreek word.

Die staatsaanklaer het nie die beweerde omkoopgeld aanvaar nie en het dadelik die plaaslike Teenkorrupsiekommissie (ACC) gekontak. Die ACC het glo die afgelope drie weke aan 'n geheime operasie deelgeneem.

“Die mans het verskeie kere kontant afgelewer. Hulle het verlede week Woensdag N$30 000 oorhandig,” het die bron gesê.

Beamptes van die ACC het na bewering dié voorvalle op video opgeneem en toegeslaan nadat die geld oorhandig is. Hulle het op die paspoort van die Pakistani, asook N$58 600 in kontant beslag gelê.

Khatri is saam met twee Namibiese vroue in Julie 2018 vir die eerste keer op Walvisbaai in hegtenis geneem.

Die twee vrou het glo oor 'n tydperk van twee maande 'n 16-jarige meisie aan dié buitelander oorhandig.

Khatri het na bewering die vroue betaal om die meisie seksueel te misbruik. Een van die vroue werk glo ook vir Jan Japan Motors en is die tannie van die slag­offer.

Nadat hulle in hegtenis geneem is, is die vroue op borgtog van N$5 000 elk vrygelaat.

Khatri moes egter borggeld van N$20 000 betaal. Een van sy borgvoorwaardes was dat hy sy paspoort moes inhandig om te verhoed dat hy op die vlug sou slaan.

Volgens die betroubare bron het die polisiebeamp­te en Khatri die staatsaanklaer genader om sy paspoort terug te kry sodat hy na Pakistan kon terugkeer.

“Hy het gesê hy sou terugkom wanneer die saak volgende jaar in die streekhof begin, maar hoe geloofwaardig dit is, kan natuurlik betwyfel word,” het die bron gesê.

Die saak is tot 4 November uitgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer