Twee vas oor moord op Swakop
Twee vas oor moord op Swakop

Twee vas oor moord op Swakop

Die hoofverdagte en 'n vermeende medepligtige in 'n moord op 'n bejaarde man is Vrydag deur die polisie in hegtenis geneem.
Jessica Botes
Jessica Botes - Met sy hande agter sy rug vasgebind en diep wonde aan sy kop, is die liggaam van 'n 78-jarige man Vrydag in sy huis op Swakopmund gevind.

Volgens hoofinsp. Erastus Ikuyu, koördi­neerder van misdaadondersoeke in die Erongostreek, is die hoofverdagte 'n 25-jarige man wat vir die oorledene, mnr. Manfred Karl Hartmann, gewerk het.

“Die verdagte het die oorledene se hande agter sy rug met elektriese kabels aan 'n uitlaatpyp vasgebind en verskeie kere met bakstene teen die kop geslaan,” het Ikuyu Vrydag­oggend by die moordtoneel gesê.

Die hoofverdagte, wat van Okakarara­ in die Otjozondjupastreek afkomstig is, is Vrydagnamiddag deur lede van die polisie op Outjo in hegtenis geneem. Volgens Ikuyu is sommige van die gesteelde items in sy besit gevind. Ná sy inhegtenisneming is 'n 26-jarige man wat glo 'n medepligtige is, op Swakopmund in hegtenis geneem.

Dié wrede aanval kom skaars twee weke ná die dubbele moord op die bejaarde Strzelecki-­egpaar op Swakopmund. Twee mans het glo die egpaar in hul huis in die Vineta-woonbuurt ernstig aangerand en beroof. Een van die verdagtes in die saak is ook 'n jong man wat vroeër opknappingswerk by die egpaar se huis gedoen het.

“Misdadigers teiken nou bejaardes en ons wil die publiek waarsku om baie waaksaam te wees, veral oor mense wat hulle in hul huise toelaat. Ou mense word geteiken deur mense wat hulle vertrou. Ons moedig almal aan om afskrifte te maak van hul werknemers se identiteitsdokumente,” het Ikuyu gesê.

Hartmann se ligaam is Vrydag om 09:45 deur lede van die Namibiese polisie in 'n poel bloed gevind nadat 'n lid van die gemeenskap die verdagte as vermis aangemeld het. Die oorledene het alleen gewoon.

“Die verdagte het vir 'n maand en 'n half as 'n tuinier vir die oorledene gewerk en hy sou Donderdag om 15:00 klaar gewees het by die werk. Hy het egter nooit ná werk by sy huis opgedaag nie en ons het na die oorledene se huis toe gegaan om ondersoek in te stel,” het Ikuyu gesê.

Volgens hom was dit dadelik duidelik dat alles nie pluis was nie. Somige deure in die huis was glo gesluit en sekere items, soos die kluis, is ook aan gepeuter. Volgens Ikuyu is die oorledene se liggaam gevind in 'n buite­toilet wat ook gesluit was.

Die verdagte het na bewering met 'n skootrekenaar en selfoon weggekom.

Ikuyu het 'n beroep op lede van die publiek gedoen om die polisie te help om die oorledene se familie op te spoor.

“Die oorledene het alleen gewoon en dit blyk dat hy nie familie in Namibië het nie. Die polisie vra dus dat enige iemand wat die oorledene of sy familie ken, die naaste polisiekantoor kontak,” het Ikuyu gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer