Twee van Nam onder Afrika se top-15 vegters
Twee van Nam onder Afrika se top-15 vegters

Twee van Nam onder Afrika se top-15 vegters

Boks
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Volgens die gesaghebbende Boxrec-webblad, is daar net twee Namibiërs onder sy 15 beste pond-vir-pond vegters in Afrika.

Hoewel Namibië met Julius Indongo (9de) en Jeremiah (Low Key) ­Nakathila (14de) sy man staan, is dit Suid-Afrika met agt vegters wat die toneel totaal oorheers.

Thabiso Mchunu (2de), Kevin Lerena (3de), Moruti Mthalane (5de), Thulani Mbenge (6de), Azinga Fuzile (7de), Zolani Tete (8ste), Chris van Heerden (11de) en Jabulani Makhense (15de) verteenwoordig Suidelike-Afrika saam met dié twee Namibiërs.

Die ligswaargewig Ilunga Makabu van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) is Boxrec se nommer een, terwyl die swaargewig Martin Bakole (10de) dié land stewig op die kaart plaas.

Richard Commey (4de), 'n liggewig van Ghana, is sy land se enigste verteenwoordiger. Die swaargewighoop van die vasteland, Efe Ajagba (12de), en ligswaargewig Isaac Chilemba (13de) is onderskeidelik van Nigerië en Malawi.

VLIEGGEWIG (50.8 – 52.16 kg)

Nr. 5. (44.40 Boxrec-punte): Moruti Mthalane (38) van die RSA (41 gevegte, 39 gewen, 2 verloor, 26 uitklophoue) verdien beslis sy posisie met 'n titaniese boksloopbaan oor 19 jaar waarin hy net twee keer aan die verloorkant was. Hoewel hy die wêreldkampioen van die Wêreldboksorganisasie (WBO) is, word hy nie deur enige ander beheerliggame vereer nie. The Ring reken darem hy is die tweede beste vlieggewig ter wêreld.

KAPOKGEWIG (53.52-55.33 kg)

Nr. 8. (33.95): Zolani Tete (32) van die RSA (32-28-4, 21 KO) word deur die WBO op nommer 5 en Wêreldboksbeheerraad (WBC) sesde geweeg. Die kenners by The Ring skat Tete se waarde as die vyfde beste kapokgewig ter wêreld. Hy was tot 30 November 2019 die WBO-wêreldkampioen, maar John Riel Casimero (Filippyne) het hom in die derde ronde met 'n tegniese uitklophou (TKO) gestuit.

SUPERVEERGEWIG (58.96-61.23 kg)

Nr. 7. (38.91): Azinga Fuzile (23) met 15-14-1, 8 KO is by die Internasionale Boksfederasie (IBF) vierde en die RSA se nommer een mededinger. Ofskoon hy tot 29 September 2019 die IBF se kontinentale Afrika- en interkontinentale kampioen was, dink The Ring nie veel van dié hotklou se vermoëns nie. Shavkatdzhon Rakhimov (Rusland) het hom in sy laaste uitstappie in Oos-Londen in die agste ronde met 'n tegniese uitklophou verslaan.

Nr. 14. (24.60): Jeremiah Nakathila (30) van Namibië (20-19-1, 15 KO) is die tweede aanspraakmaker op die WBO-wêreldgordel, maar The Ring laat Low Key buite rekening as hy sy topvyf kies. Nakathila kan hom dalk volgende in 'n uitdungeveg teen Oscar Valdez van Mexiko (27-27-0, 21 KO) te staan om te bepaal wie mag Jamel Herring om sy WBO-wêreldkroon pak.

LIGGEWIG (61.23-63.50 kg)

Nr. 4. (79.75): Richard Commey (33) met 'n rekord van 32-29-3-0, 26 KO, is 'n Ghanees en was die IBF-liggewigwêreldkampioen totdat Teofimo Lopez (VSA) hom op 14 Desember 2019 van sy titel ontneem het. Hy word deur die WBC (7de), IBF (10de) en The Ring (3de) gereken.

SUPERLIGGEWIG (63.50-66.67 kg)

Nr. 9. (30.98 punte): Julius Indongo (37) met 25-23-2-0, 12 KO, het Namibiërs in 2016 en 2017 met drie wêreldtitels laat jil van trots en plesier. Indongo het op 3 Desember 2016 in Rusland vir Eduard Troyanovsky (Rusland) met 'n uitklophou in die eerste ronde van sy IBF- en IBO-wêreldgordels ontneem, voordat hy Ricky Burns (Brittanje) se WBA-­titel op 15 April 2017 in Glasgow met 'n eenparige puntebeslissing oor 12 rondes opgeëis het. Die hotklou is steeds Namibië se nommer een in dié gewigsklas, maar word deur geen van die boksbeheerliggame op hul wêreld­ranglyste aangedui nie.

Nr. 15. (23.66 punte): Die 26-jarige Jabulani Makhense (9-9-0, 4 KO) is die RSA se nommer een vegter en die IBF se kontinentale Afrika-kampioen en die WBA se Pan Afrika-kampioen. Hy word tans nie deur enige van die boksbeheerliggame vereer nie, maar indien die talentvolle bokser op peil bly, sal hy binnekort sy weg na die wêreldranglyste vind.

WELTERGEWIG (66.67-69.85 kg)

Nr. 6. (40.29 punte): Die Suid-Afrikaner Thulani Mbenge (28) met 16-15-1, 12 KO, was sedert Maart 2018 die WBC se interkontinentale ­titelhouer en het in Junie 2018 die vakante IBO-wêreldtitel teen Diego Gabriel Chaves (Argentinië) met 'n TKO in die sewende ronde opgeraap. Sebastian ­Formella (Duitsland) het egter laas Julie hom oor 12 rondes met 'n eenparige punte­beslissing vir sy IBO-wêreldkroon verslaan.

Nr. 11. (29.31 punte): Chris van Heerden (33) se 31-28-2-1, 12 KO, is glad nie te versmaai nie. Hy is die eerste aanspraakmaker op Mbenge se SA-titel, maar verskyn op geen ranglys nie. Hy is tans die WBA se Pan Afrika-kampioen.

LIGSWAARGEWIG (76.2-79.39 kg)

Nr. 13. (24.82 punte): Die Malawiër Isaac Chilemba (32) met 35-26-7-2 (10 KO) was in sy laaste sewe gevegte vyf keer aan die verloorkant.

Hy verskyn op geen ranglyste nie en sy loopbaan staan beslis einde se kant toe.

JUNIOR SWAARGEWIG

(79.4 - 90.7 kg)

Nr. 1. (131.7 punte): Die 32-jarige Ilunga Makabu van die DRK (29-27-2, 24 KO) is sedert 31 Januarie 2020 die WBC-wêreldkampioen toe hy Michal Cieslak (Pole) met 'n eenparige punte­beslissing oor 12 rondes in Kinshasa geklop het. Hy word nie deur enige ander beheerliggaam op 'n ranglys aangedui nie. Ring reken egter hy is die derde beste junior swaargewig ter wêreld.

Nr. 2. (92.60 punte): Thabiso Mchunu (32) van die RSA (27-22-5, 13 KO) is by die WBC nommer 1 en WBO nr. 9. The Ring beskou hom as die negende beste bokser in sy klas. Hy is die SA-titelhouer asook die WBC se silwerkampioen.

Hy het Denis Lebedev (Rusland) verlede Desember in Krasnoyarsk oor 12 rondes eenparig met punte vir dié gordel opgedreun.

Nr. 3. (81.28 punte): Kevin Lerena (28) met 26-25-1, 12 KO van die RSA is sedert 9 September 2017 die IBO junior swaargewigwêreldkampioen. Die hotklou word deur die WBA (2de), IBF (3de), WBC (4de) en The Ring (5de) hoog in sy gewigklas geag. Hy het Youri Kayembre Kalenga (DRK) met punte oor 12 rondes geklop om sy wêreldkroon te buit en het sedertdien sy kroon ses keer suksesvol verdedig. Die tyd kom nader dat Lerena van die ander groot name aanvat.

SWAARGEWIG (+91 kg)

Nr. 10. (29.45 punte): Martin Bakole van die DRK (16-15-1, 12 KO) is 'n reus van 1.98 meter. Hy het verlede jaar April die ervare en gerekende Mariusz Wach (Pole) in sy eie agterplaas met 'n tegniese uitklophou in die agtste ronde oordonder. Bakole word nie deur een van die beheerliggame gelys nie en word verreweg deur Efe Ajagba (Nigerië) op die wêreldranglyste met twee plekke oorskadu.

Nr. 12 (27.74 punte): Die 26-jarige Efe Ajagba (13-13-0, 11 KO) van Nigerië het 'n blink toekoms voor hom. Hy word deur die WBA (12de) en WBC op nommer 14 gereken – die enigste swaargewig uit Afrika wat hom tans op wêreldranglyste bevind.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer