Twee uiteenlopende toesprake in 24 uur
Twee uiteenlopende toesprake in 24 uur

Twee uiteenlopende toesprake in 24 uur

Pres. Donald Trump se twee wyduiteenlopende toesprake binne 24 uur en veral die toon daarvan het die klem opnuut op die interne dinamiek in die Withuis laat val.
NAMPA
Binne 24 uur het pres. Donald Trump van Amerika twee toesprake gelewer. In die een het hy skerp teen die media en lede van sy eie party uitgevaar. In die tweede een het hy vir nasionale eenheid en liefde gevra.

Dié ommeswaai weerspieël oënskynlik die president se regstreekse interne debat wat wissel van ag slaan op versoeke vir matigheid en sy eie instink om uit te vaar.

Woensdag het die president in 'n gematigde toon gepraat en by vooraf voorbereide aanmerkings gehou toe hy veterane by 'n konferensie van die Amerikaanse Liga in Nevada toegespreek het.

“Ons is hier om julle as voorbeelde van krag, dapperheid en vasberadenheid voor te hou, wat ons land sal help om baie uitdagings die hoof te bied,” het hy gesê.

Die vorige aand het Trump nie teruggehou nie toe hy in Arizona, ondanks instruksies van sy raadgewers om by die teks te hou, sy geveg met die media voortgesit het oor die dekking van sy opmerkings oor rasgedrewe geweld in ­Charlottesville, Virginia.

Dié openbare heen-en-weer weerspieël die Withuis se interne dinamiek, waar Trump se nuwe stafhoof, John Kelly, personeel van die westelike vleuel begin organiseer het.

Trump se toespraak in Reno was vol versoeke vir patriotisme en nasionale genesing.

Sedert Kelly se oorname verlede maand het hy van die ­heethoofdige hoofstrateeg, Steve Bannon, en die ewe omstrede kommunikasiehoof, Anthony Scaramucci, ontslae geraak.

Kelly het Trump aangeraai om hom by 'n voorafbepaalde plan te hou. Trump se afranseling van die media in Phoenix was duidelik nie deel van dié plan nie.

Sy smaadrede teen die media was volgens twee bronne wat bekend met die plan is, nie in sy voorbereide notas nie. - Nampa/AP

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer