Twee uit twee vir vrouespan

Krieket
Andrew Poolman
Namibië se vroue-Eagles het vandag in Kigali, Rwanda, hul tweede wedstryd in die Kwibuka T20-toernooi met 43 lopies teen die gasheerspan gewen.
Die Namibiërs, wat gister vir Nigerië oordonder het, het eerste gekolf en 101/6 in hul 20 boulbeurte opgestel, teen ’n kolftempo van 5.05 per boulbeurt.
Die aanvangspaar Adri van der Merwe (29 van 23 balle, ses viere) en Arrasta Diergaardt (20 van 39 balle, 2x4) het saam 36 lopies om die eerste paaltjie behaal.
’n Ligte ineenstorting het gevolg toe Yasmeen Khan (0), Kayleen Green (6), die kaptein Irené van Zyl (0), Dietlind Foerster (3) opeenvolgend vir klein tellings uitgehaal is om die span op 57/5 te laat steier.
Teen die einde het Suné Wittmann (22 nie uit nie van 25 balle, 1x4) en Wilka Mwatile (13 nie uit nie van 17 balle) egter vasgeskop om die telling minstens tot drie syfers te voer.
Die Namibiese boulwerk het egter heeltemal te veel skop vir Rwanda gehad, wat binne die eerste drie boulbeurte drie paaltjies – al drie vir nulletjies – verloor het. Rwanda het sy kolfbeurt op 58/8 afgesluit en het nooit gedreig om die besoekers se teiken in te haal nie.
Kayleen Green met 2/8 in vier boulbeurte en Wilka Mwatile (2/7 in 4) het elkeen een leë boulbeurt afgestuur, met Mwatile se veelsydige vertoning wat haar die toekenning as speler van die wedstryd besorg het.
Victoria Hamunyela het later toegetree met ’n ewe goeie 2/14 in 4 boulbeurte.
Die Namibiese Eagles kom Dinsdag teen hul buurland Botswana te staan, wat vandag deur die toernooi se gunstelinge Kenia afgeransel is. Botswana kon net 68/9 bymekaarskraap en Kenia het binne net 7.3 boulbeurte met agt paaltjies gewen.
Woensdag sal Namibië en Kenia teen mekaar opgeweeg word. Die semifinale en eindstryd word op die twee opeenvolgende dae gespeel.

Kommentaar

Republikein 2025-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer