Twee toerismestrategieu00eb vir Namibiu00eb
Twee toerismestrategieu00eb vir Namibiu00eb

Twee toerismestrategieë vir Namibië

Toerisme is almal se besigheid en die regering, private sektor en alle rolspelers moet hande vat om dié bedryf ten volle te ontgin. Daarom is twee strategieë ontwikkel.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Nasionale Volhoubare Toerismegroei- en Ontwikkelingstrategie en die Nasionale Toe­risme Beleggingsprofiel- en Promosiestrategie wat in Julie in die parlement goedgekeur is, is gister deur die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, in Windhoek bekend gestel.

“Die hoofdoel van die strategieë is om Namibië as die mededingendste toeristebestemming in Afrika te vestig, asook die toerismebedryf as die tweede belangrikste bydraer tot die Namibiese ekonomie ten opsigte van bydrae tot die BBP en buitelandse inkomste,” het dr. Sem Shikongo, die direkteur van toerisme in dié ministerie gesê.

Die implementering van hierdie strategieë deur alle rolspelers in die toerismebedryf is gebaseer op vyf sleutelbeginsels volgens die nasionale toerismebeleid van 2008. Die implementering moet private sektor gedrewe wees; die regering moet in totaliteit betrokke wees met die implementering; ''n kultuur van gasvryheid en uitstekende kliëntediens moet gevestig word; die klem moet op prioriteitmarkte met die grootste beleggings geplaas word; en omgewings-, ekonomiese en maatskaplike volhoubaarheid moet op gefokus word.

“Mededinging moet in ag geneem word met die implementering van dié strategieë. Toeristegetalle, toeriste se tydperk van verblyf en hul besteding in die land moet verhoog word,” het Shikongo gesê.

“Die geografiese verspreiding van toeristebesoeke­ moet verbeter, asook die vermeningvuldiging van voordele vir gemeenskappe.”

Shikongo sê markte moet gediversifiseer word en patrone van seisoenaliteit moet verbeter word. Ook moet bemagtiging deur middel van toerisme bevorder word.

“Toerisme is almal se besigheid, is die siening van die ministerie,” het Shikongo beklemtoon.

Die uitvoerende hoof van die Namibië Toerismeraad (NTB), mnr. Digu //Naobeb, sê toerisme floreer in ''n atmosfeer van vrede en sekuriteit en dit is wat Namibië aan toeriste bied. Hy het kommer uitgespreek oor misdaadvlakke wat besig is om in Namibië te styg met kriminele wat toeriste teiken.

//Naobeb het ook beklemtoon dat plaaslike toerisme nie onderskat moet word nie en dat pryse by toerisme-­instansies reg moet wees.

Mnr. Bernd Schneider van die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings (Fenata) het gesê Namibië kan homself op die skouer klop: “Ons het uitstekende toerismepotensiaal. Namibië doen reeds baie goeie werk in toerisme.”

Die minister sê egter toerisme lewer wel ''n groot bydrae tot die inkomste en ekonomiese groei van die land, maar dit het nog nie sy volle potensiaal bereik nie en daar is nog baie hindernisse en beperkings.

“Wanneer toeriste in Namibië arriveer, verwag hulle die ervaring van Bestemming Namibië soos belowe in ons bemarkingspogings. Dit is kliëntediens wat die ervaring buitengewoon maak,” het Shifeta gesê.

“Die Namibiese toerismebedryf kan slegs op die gebied van kliëntediens presteer as alle sektore dit ''n integrale prioriteit maak om uitstekende kliëntediens te lewer.”

Die minister hoop hierdie strategieë kan die ware potensiaal van die toerismebedryf ontsluit “wat nog nie ten volle ontdek is nie”.

Kommentaar

Republikein 2026-07-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer