Twee manne - een dorp - en 'n mikpunt van N$100 000
Twee manne - een dorp - en 'n mikpunt van N$100 000

Twee manne - een dorp - en 'n mikpunt van N$100 000

Tanja Bause
Tanja Bause – Twee manne van Grootfontein wil binne ’n jaar N$100 000 ten bate van die Namibiese Kankervereniging (CAN) insamel.
Mnr. Johann van Heerden wat op die dorp werk en mnr. Gerhard Breedt, ’n boer van die omgewing, het met die idee vorendag gekom om vanaf 1 November 2015 tot 1 November 2016 die geld te probeer insamel. Tot dusver vaar hulle baie goed en N$7 000 is reeds ingesamel.
“Ons wou graag geld vir kanker insamel omdat ons in die laaste tyd baie mense van die dorp aan die siekte verloor het en ons voel ons moet iets vir bewusmaking,” het doen Van Heerden gesê.
Die eerste N$2 000 het hulle gekry toe die twee mans hulle hare afgeskeer het. Toe kom nog N$2 000 by ná Van Heerden vir ’n week met ’n kort broek en das werk toe is, en Breedt met ’n langbroek – soos ’n kantoorwerker betaam – op sy landerye moes werk. Die volgende N$2 000 is geskenk ná beide mans verlede week met ’n pienk pruik werk toe is, en hierdie week kry Van Heerden nog N$1 000 mits hy elke dag in ’n pienk rok werk toe gaan.
“Ek doen dit met graagte, want ná ’n week haal ek die pruik af en trek die rok uit, maar iemand wat met kanker gediagnoseer is kan dit nie na ’n week uittrek nie,” het hy gesê. “En ja, ek lyk belaglik maar weer eens, my hare groei terug, maar iemand met kanker bly veg en sy of haar stryd is lank en baie moeiliker as wat ek met ? pruik of kaalgeskeerde kop of ’n rok moet loop.”
Daar wag nog talle ander geldinsamelingsprojekte op die manne, en hulle hoop om almal op Grootfontein op een of ander wyse daarby betrokke te kry.
“’n Jaar is ’n lang tyd en ons wil dit ’n Grootfontein-wye projek maak sodat ons na ’n jaar vir die Kankervereniging kan sê: “Hier. Dit kom van die mense van Grootfontein.”

Kommentaar

Republikein 2025-07-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer