Twee in 'n ry vir Kauanivi

Marathonne
Adolf Kaure
Adolf Kaure



Die tweede weergawe van die Sanlam-kusmarathon is Saterdag­oggend by Swakopmund aangebied waaraan meer as 600 lang­asems deelgeneem het.

Mynhardt Kauanivi, een van die land se Olimpiese verteenwoordigers by Rio de Janeiro 2016, het die marathon vir mans oor 42.2 kilometer gemaklik in 'n tyd van 2 ure 28 minute 20 sekondes gewen.

Paulus Iiyambo wat 2 minute 5 sekondes stadiger as die wenner oor die eindstreep gedraf het, het met 2:30:25 die tweede plek ingeneem, terwyl die ervare Frans Hosea met 2:34:36 die derde posisie ingepalm het.

Kauanivi se oorwinning besorg aan hom N$15 000 met die komplimente van Sanlam. Hy sal ook in September vanjaar met 'n ten volle geborgde reis deur Sanlam aan die Sanlam Kaapstad-marathon gaan deelneem. Dié marathon het verlede jaar goue status van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) gekry.

Kauanivi wat reeds vir etlike jare Namibiese paaie aan die brand hardloop, is opgewonde oor sy deelname aan die Sanlam Kaapstad-marathon.

“Ek is trots op myself, want ek het hard gewerk om my 2018-titel by die Sanlam-kusmarathon suksesvol te verdedig. Dit is nogtans 'n hartseer dag vir my, want my tannie is vandag tuis begrawe. Ek moes gegaan het, maar ek het eerder vir die marathon gekom.

“In Kaapstad wil ek graag my persoonlike beste tyd gaan hardloop en dan vir nog padwedlope oefen. Ek wil die jeug aanmoedig om hard te werk en ten alle tye gedissiplineerd te lewe,” het Kauanivi gesê.



VROUERESIES

Die vroue-marathon is deur Ndeshimona Ekandjo in 2:55:30 oorheers, wat ook 'n stewige Sanlam-tjek van N$15 000 vir haar inspanning ontvang het.

Die tweede en derde plekke is onderskeidelik deur Alina Armas in 2:58:41 en Stephanie Smith in 3:12:51 ingeneem.

Ekandjo sal saam met Kauanivi na die Wes-Kaap reis waar sy ook in die kleure van Sanlam Namibië die bestes sal aandurf.

“Ek het goed gevoel tydens die wedloop. Die roete was lekker, maar die wind was erg vir my. Ek sal hard moet oefen en seker maak ek is fiks en gereed vir die Sanlam Kaapstad-marathon,” het die 2019 vrouekampioen vertel.

Beide die mans en vroue wat tweede en derde in die marathon geëindig het, het onderskeidelik N$7 000 en N$5 000 van Sanlam ontvang.

Deelnemers kon Saterdag ook hul drafskoene vir die halfmarathon (21.1 km), 10 km-wedloop of 5 km-pretdraf aantrek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer