Twee buitelanders sterf die naweek
Twee buitelanders sterf die naweek

Twee buitelanders sterf die naweek

Sondag is die lyk van ’n Britse burger op die pad na Dooievlei, by Sossusvlei, in die duine ontdek.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het toeriste om 09:12 op die liggaam afgekom.

Die man het glo Saterdag by die park ingegaan.

Saterdag het ’n Suid-Afrikaanse burger om 15:30 by die Mole op Swakopmund verdrink. Die man en sy vriende het glo in die see gaan swem toe die branders hom dieper die water ingetrek het en hy verdrink het.

Die man was ’n werknemer van die Suid-Afrikaanse maatskappy Unik Construction Company en het op Swakopmund gewoon.

Mnr. Johannes Hamukwaya (69) het Sondag om 07:30 in die Ontanda-nedersetting in die Tsandi-kiesafdeling gesterf toe ’n plofbare toestel ontplof het. Die toestel was glo onder die grond, naby ’n boomstomp begrawe, wat Hamukwaya probeer uithaal het.

Sondag om 00:19 het ’n man glo drie mense met ’n mes by die Funny Game 2-kroeg in Otjomuise gesteek.

Die slagoffers wou die man glo in hegtenis neem omdat die polisie hom in verband met ’n aanranding in Otjomuise soek. Hy het ’n mes uitgepluk en drie mense gesteek.

Toe die polisie by die toneel opdaag, was daar ’n bakleiery en moes hulle ’n waarskuwingskoot afvuur, lui die verslag.

Die verdagte het op die vlug geslaan en is later deur die polisie in hegtenis geneem. Die slagoffers is in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem.

’n Verbyganger het Sondag die lyk van me. Amanda Benz (48) Sondag buite Rehoboth op ’n voetpad langs die rivier gevind.

Haar kop was vol bloed, wat volgens die polisie daarop dui sy is met ’n onbekende item oor haar kop geslaan.

Die polisieondersoek duur voort.

Drie mans van 22, 24 en 38 het mnr. Hans van Wyk op 31 Oktober glo in Blok B op Rehoboth met ’n moersleutel aangerand.

Hy is na die hospitaal op Rehoboth geneem en is later na die Katutura-staatshospitaal oorgeplaas waar hy dood is. Die verdagtes is in hegtenis geneem.

Ndamononghenda Sambezu (8) is op slag dood toe weerlig haar getref het.

Die voorval het Sondag om 16:47 in die Omulondo-nedersetting by Eenhaha plaasgevind.

Op diselfde dag om 20:35 het ’n trein me. Evangeline Nghede in die Omafo-nedersetting by Oshkango raakgery en sy is dood.

Die treindrywer het haar op die spoorlyn sien lê en die toeter as waarskuwing gedruk.

Sy het nie beweeg nie en die trein het bo-oor haar gery en kon eers ’n paar meter verder tot stilstand kom.

Die trein was van Oshikango af op pad Ondangwa toe.

’n Voertuig het Maandag om 00:00 ’n 18-jarige man in Onafhanklikheidsrylaan naby die diensstasie in Soweto gestamp.

Die man het op die toneel gesterf en die bestuurder het weggery.

Hy het sy voertuig in Penningstraat verlaat en per voet verder op die vlug geslaan.

Die polisie het die verdagte later in hegtenis geneem.

Die oorledene se naasbestaandes is nog nie van sy dood in kennis gestel nie.

Kommentaar

Republikein 2025-11-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer