Twee babas sterf in ongelukke
'n Taxibestuurder was glo onder die invloed van alkohol en sonder 'n rybewys toe hy 'n seuntjie op Swakopmund gestamp het.
Francoise Steynberg - Twee babas het die afgelope naweek in padongelukke gesterf.
'n Drie maande oue baba het op pad hospitaal toe gesterf ná 'n ongeluk Saterdag op die grondpad tussen Ondobe en Oshigambo.
Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die ongeluk omstreeks 12:50 by die Onailonga-nedersetting gebeur.
"Na bewering het die bestuurder van 'n sportnutsvoertuig beheer daaroor verloor en dit het omgeslaan. Ses ander passasiers is lig tot ernstig beseer," sê die polisie.
In die Mondesa-woonbuurt op Swakopmund het 'n 25-jarige taxibestuurder, mnr. Natangwe Lipuleni Wilhelm, Sondag omstreeks 19:00 na bewering onder die invloed van alkohol en sonder 'n rybewys 'n een jaar en agt maande oue babaseuntjie gestamp toe hy oor die straat naby sy huis wou loop.
Leonard Natangwe Ukelo het omstreeks 19:00 op die toneel in Masilostraat gesterf.
Die verdagte is in hegtenis geneem en het Dinsdag in die landdroshof op dié kusdorp voor landdros Conchita Olivier verskyn, berig Nampa.
Hy bly in aanhouding en die saak is tot 10 Januarie uitgestel.
'n Sedan en 'n bakkie het Saterdag omstreeks 17:27 by Aussenkehr trompop gebots toe die sedan 'n ander voertuig glo wou verbysteek.
'n Passasier in die sedan, me. Maria Ndiyaamena (39), is by aankoms by die hospitaal dood verklaar. Die bestuurders en ander passasiers is lig beseer. Die polisieondersoek duur voort.
'n Bakkie met 10 insittendes (die bestuurder ingesluit) en 'n sleepwaentjie was Maandag tussen 10:30 en 11:00 op die C14-grondpad in 'n ongeluk betrokke.
"Die voertuig was van Walvisbaai af na die plaas Nabasib onderweg toe die agterband gebars het en die voertuig omgeslaan het. Een passasier, mnr. Malcolm MacNab (49) van Naraville, is ernstig beseer en het op pad na die Walvisbaaise staatshospitaal aan sy beserings beswyk," sê die polisie.
Die 54-jarige bestuurder en agt passasiers is lig beseer.
Die 75-jarige Duitse bestuurder van 'n wit dubbelkajuitbakkie het Vrydag omstreeks 13:10 op die B2-hoofweg tussen Okahandja en Karibib beheer oor die voertuig verloor, waarná dit omgeslaan het.
"Die bestuurder en sy 57-jarige passasier, ook 'n Duitse burger, het ligte tot ernstige beserings opgedoen en is in die Okahandja-staatshospitaal opgeneem," sê die polisie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie