Twaalfjarige hang homself
Twaalfjarige hang homself

Twaalfjarige hang homself

Martin Itamalo, ’n twaalfjarige seun van Omuthiya, het homself Saterdag in sy kamer met sy gordel opgehang.
Volgens die polisie se misdaadverslag was die seun en sy ouers by die huis.

Nadat hy sy skoolboeke klaar oorgetrek het, het hy glo na sy slaapkamer gegaan. Sy ma het hom later geroep en na hom gaan soek toe hy nie antwoord nie. Sy het hom dood in sy kamer aangetref waar hy homself opgehang het. Hy het geen selfdoodnota gelos nie.

VERKRAGTINGS

Na bewering het ’n 31-jarige man Vrydag omstreeks 15:00 ’n 66-jarige vrou verkrag. Die voorval het in die Donkerhoek-woonbuurt op Keetmanshoop plaasgevind. Die vrou is ernstig beseer en is in die hospitaal opgeneem. Die man is in hegtenis geneem.

• ’n 25-jarige man het Vrydag omstreeks 02:00 ’n 31-jarige vrou in haar slaapkamer met ’n stukkende bottel gedreig en haar verkrag. Die verdagte en die slagoffer was in ’n verhouding, maar weens die verdagte se gewelddadige gedrag het sy die verhouding beëindig. Die man is in hegtenis geneem.

• Tussen Vrydagnag en Saterdagoggend het ’n 27-jarige man glo ’n vrou in die Harambee- informele nedersetting op Karibib verkrag. Die vrou wat na bewering onder die invloed van drank was, het in haar kamer geslaap. Sy het glo die volgende oggend kaal wakker geword met die man langs haar op ’n matras op die vloer. Nog twee mans het op die bed in dieselfde kamer geslaap. Die verdagte is bekend aan die slagoffer, maar is nog nie in hegtenis geneem nie.

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer