Twaalf mense sterf op een dag in motorongelukke
Twaalf mense sterf op een dag in motorongelukke

Twaalf mense sterf op een dag in motorongelukke

Een trompop botsing en twee voertuie wat omgeslaan het, eis lewens.
Tanja Bause
Tanja Bause - Twaalf mense het Maandag in drie verskillende ongelukke gesterf.

Vyf mense is dood nadat die voertuig waarin hulle gery het, om 10:20, sowat 70 km suid van Katima Mulilo op die pad tussen Linyanti en Sangwali, omgeslaan het.

Volgens adj. komm. Evans ­Simasiku, die Namibiese polisie se koördineerder van misdaadondersoeke in die Zambezistreek, het die bestuurder glo beheer oor die voertuig verloor nadat 'n band gebars het.

Die voertuig het vier keer gerol en vier van die passasiers is op slag dood.

Een passasier het op pad na die staatshospitaal op Katima Mulilo gesterf.

Nog vyf mense, onder meer die bestuurder, is ernstig beseer en verkeer in 'n kritieke toestand in die hospitaal.

“Die bestuurder, wat die ongeluk oorleef het, was in die besit van 'n vervalste rybewys. 'n Saak van strafbare manslag, roekelose bestuur en die bestuur sonder 'n wettige rybewys is teen hom geopen,” het Simasiku gesê.

Die oorledenes is mnre. Fidelis Mukushi (71), Kazanga Isaac Ronmoss (19), Ndozi Mubita (ouderdom onbekend) en me. Luze Linda Kachana (21). Die vyfde slagoffer is nog nie geïdentifiseer nie.

Vyf mense is op slag dood toe hulle in 'n tromop botsing in Ondangwa betrokke was.

Die ongeluk het om 10:00 plaasgevind toe 'n sedanvoertuig en 'n bakkie, wat aan die kragvoorsieningsmaat­skappy in die noordelike streke van Namibië (Nored) behoort het, met mekaar gebots het.

Volgens hoofinsp. Kauna Shikwambi, polisiewoordvoerder, was die voertuig van Oshakati na Ondangwa op pad.

Die bakkie het in die teenoorgestelde rigting gery toe die tromop botsing plaasgevind het.

Beide bestuurders het volgens ­Shikwambi beheer oor die voertuig verloor en die voertuie het ­omgeslaan.

Drie passasiers en die bestuurder van die sedanvoertuig het op die toneel gesterf.

Nog 'n vroulike passasier het in die staatshospitaal op Oshakati aan haar beserings beswyk.

Die oorledenes is mee. Slema Angnes Katshoona (35), Ipawa Hennock (13), Brunah Tuwilika Ndemupehafo Shapi (4) en mnr. Medusalem Nantinda (32).

Die vrou wat in die hospitaal gesterf het, is nog nie geïdentifiseer nie.

Twee kinders van twee en ses jaar oud het op die pad tussen Groot­fontein en Rundu in 'n ongeluk gesterf.

Die ongeluk het om 01:30 sowat 30 km noord-oos van Grootfontein plaasgevind. Die familie was van Hentiesbaai af op pad na Rundu toe die voertuig omgeslaan het.

Volgens ao. Maureen Mbeha, woordvoerder van die Namibiese polisie in die Otjozondjupastreek, het die 36-jarige bestuurder beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan. Vier ander passasiers is in die ­staatshospitaal op Grootfontein opgeneem.

'n Saak van strafbare manslag is teen die bestuurder geopen.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer