Tsumeb se bejaardes soek hulp
Tsumeb se bejaardes soek hulp

Tsumeb se bejaardes soek hulp

Tanja Bause
Tanja Bause – ’n Noodsaaklike diens wat twee apteke in Tsumeb jare lank reeds aan bejaardes bied, moes nou noodgedwonge weens finansiële redes gestaak word.
Die Etosha Apteek en die Tsumeb Apotheke het in 2004 besef in watter nood baie bejaardes in Maroela Park en elders op die dorp verkeer. Hulle het saam besluit om te help met hul aankope, die onttrekking van geld, die betaal van rekeninge, vervoer na winkels, dokters en haarkappers en dies meer.
Die afgelope ses jaar behartig me. Elza Kruger dié diens vir 14 bejaardes.
Maar nou, omdat dit die twee apteke sowat N$10 000 per maand kos en dit ’n uitgawe is wat nie werklik geld genereer nie, het die diens tot ’n einde gekom.
“Dit is ’n harde slag vir ons, want wie gaan nou vir ons goed aanry en vir ons rondry? Baie van ons kinders werk voltyds en kan ons nie deur die dag vervoer nie. Elsa was altyd daar. Nou weet ek nie wat ons gaan doen nie,” het tannie Ina Gaus gesê.
Dié vraag is deur ander inwoners van Maroela Park herhaal. Hulle is raadop.
“Daar is byvoorbeeld Ounie Kapia wat ’n knie- en heupvervanging gehad het. Ek betaal al haar rekeninge en doen haar inkopies vir haar. Ek neem haar ook na haar vriendin se huis waar sy haar wasgoed was omdat sy nie lopende water by haar eie huis het nie,” het Kruger gesê.
Volgens haar is daar baie mense soos tante Gaus wat nie kinders het nie en wat van die diens afhanklik is.
“Sy bak koekies om ’n inkomste te verdien. Ek lewer vir haar bestanddele af en laai die gebakte koekies af om verkoop te word. Wie gaan haar nou help?” wou Kruger weet.
Kruger is bereid om op haar eie met die diens voort te gaan, maar dit beteken sy moet borge vir omtrent N$10 000 ’n maand soek.
“Die geld sal die diens, brandstof, versekering en onderhoud van die voertuig dek en ook ’n klein salaris vir my,” het sy gesê.
Diegene wat graag wil help sodat die diens kan voortgaan, kan Kruger by 085 553 7298 skakel.

Kommentaar

Republikein 2026-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer