Tsumeb in rou oor sonskynkind

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg en Maria Eiseb - Tsumeb is in rou oor klein Jasper Coetzee (13), 'n graad 7-leerling van die El Shaddai-sentrum, wat Vrydag in 'n padongeluk tussen Tsumeb en Tsintsabis gesterf het.

Wyle Jasper Jacobus Coetzee, genoem Jas, is die seun van die bekende oudrugbyspeler Jasper en me. Tuckie Coetzee.

Volgens die koördineerder van misdaadondersoeke in die Oshikoto­streek, adj.hoofinsp. Edna Nawa, het die ongeluk sowat 45 km buite Tsumeb plaasgevind nadat die ligte afleweringsvoertuig met 'n sleepwaentjie met bokke wat klein Jasper bestuur het, die pad verlaat en omgeslaan het.

Twee plaaswerkers was glo die passasiers (onderskeidelik 50 en 48 jaar oud) en het ernstige beserings in die ongeluk opgedoen. Hulle is volgens die polisie in die Tsumeb-­staatshospitaal opgeneem.

"Hy en die plaaswerkers het bokke van 'n ander plaas af vervoer," het Nawa aan Republikein gesê.

Daar is beweringe dat Jasper glo aan een van die plaaswerkers gevra of hy kan terugbestuur, maar nóg die polisie nóg die familie kon dit ­bevestig.

Intussen het boodskappe van medelye sedert Vrydag van heinde en verre op die Facebook-blaaie van Tsumeb Home Page en van klein Jas se ma ingestroom: “Jammer vir jul groot verlies. Klein Jasper, ek gaan nie vir jou sê rus sag nie. Jy was te besig en gaan daar bo in die Hemel waar jy nou is, net jy wees. Wees stout, wees kind en skuif alles deurmekaar daar bo.”

Jas het ook twee jaar gelede in Republikein­ verskyn toe hy met 'n wetenskapprojek 'n hond uit yster gesweis het.

Sy halfsuster, me. Jackie Page, het aan Republikein gesê die familie is gebroke en dat Jas 'n baie oulike kind was. “Ons drie halfsusters het nie soos sy halfsusters gevoel nie, maar soos sy 'volsusters'”.

Jas se familie beskryf hom as "die lewenslustige plaasseun wat almal laat lag het en 'n storie of vier kon vertel”.

Sy roudiens vind Vrydag om 10:00 by die Schützenverein op Tsumeb plaas.

Jas word deur sy ouers, groot­ouers, suster Karin (11) en halfsusters oorleef.

Kommentaar

Republikein 2025-11-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer