Trustco skil sy eie appeltjie met prokureurs
Trustco skil sy eie appeltjie met prokureurs

Trustco skil sy eie appeltjie met prokureurs

Dani Booysen
Sommige prokureurs eis volgens Trustco meer geld as waarop hul volgens ooreenkoms geregtig is vir dienste wat hulle aan Legal Shield lewer.

In reaksie op aantygings van wanbetaling voer die finansiële reus ook aan dat sekere regslui dubbele fakture stuur terwyl hulle net een mag inhandig vir elke fase van sake wat hulle behartig. Na bewering eis prokureurs ook vir werk wat deur ander mense gedoen word. Voorts manipuleer sekere regslui volgens die onderneming die eisproses.

In 'n nuusvrystelling wat laat Woensdag uitgereik is, sê mnr. Neville Basson, woordvoerder van die groep, Trustco Insurance het ná 'n interne oudit 'n geskil van sy eie met sekere regspraktisyns verklaar. Die maatskappy sê hy het, omdat die saak nou in die openbare domein geplaas is, geen ander keuse as om met sy eie griefprosedure voort te gaan nie. Om net voor die voet te betaal, sal volgens Trustco beteken dat hy nie sy fidusiêre pligte nakom nie.



'onderhandel persoonlik'

Die maatskappy beveel aan dat gegriefde prokureurs persoonlik met die bestuur oor uitstaande betalings en ander oorsake van hul ongelukkigheid onderhandel.

Trustco voer aan regslui hoef volgens kontrak eers betaal te word na die afhandeling van elke fase van 'n regsgeding en die onderneming mag ook rekeninge laat takseer voor vereffening.

Volgens Basson voorsien Legal Shield dekking vir regshulp aan meer as 60 000 polishouers teen baie bekostigbare premies. Die produk se goeie naam is volgens die maatskappy oor 17 jaar opgebou en daar word aan alle voorskrifte en regulasies voldoen.

Kommentaar

Republikein 2025-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer