Trump wis al weke Withuis is mislei
Trump wis al weke Withuis is mislei

Trump wis al weke Withuis is mislei

Die nuwe administrasie in Washington wankel skynbaar tussen die een krisis en die ander.
Estelle de Bruyn
Die Amerikaanse president, Donald Trump, weet reeds vir weke dat sy nasionale veiligheidsraadgewer, Michael Flynn, die Withuis oor sy kontak met Rusland mislei het, maar het dit nie onmiddellik gebruik om hom uit te forseer nie, het 'n woordvoerder van die ­administrasie gesê.

Trump is laat in Januarie ingelig dat Flynn nie die volle waarheid aan visepresident Mike Pence vertel het oor die gesprekke wat hy voor Trump se inhuldiging met Rusland se ambassa­deur na Amerika gevoer het nie, het die Withuis-woordvoerder, Sean Spicer, gesê.

Pence het eers bewus geword van die “onvolledige inligting” wat hy van Flynn ontvang het, toe nuusberigte verlede week begin verskyn het, het sy woordvoerder, Mark Lotter, Dinsdag gesê. Flynn het Maandag bedank.

Sy vertrek is nog 'n slag vir die Trump-administrasie wat reeds verskeie kere vanweë interne dramas gesidder het sedert die Republikeinse sakeman op 20 ­Januarie as president ingehuldig is.

The New York Times het Dinsdag berig ver­skeie lede van Trump se verkiesingsveldtog en ander medewerkers het in die jaar voor die 8 November-verkiesing kontak met senior Russiese intelligensie amptenare gehad. Geen konkrete bewyse kon egter gevind word dat hulle saamgesweer het om die verkiesing te ontwrig nie. Amerikaanse wetgewers, insluitende vooraanstaande Republikeine, het vir 'n dieperliggende ondersoek oor Flynn se optrede en die Withuis se bande met Moskou gevra.

- Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer