Trotse Henties sit groot bure ore aan
Trotse Henties sit groot bure ore aan

Trotse Henties sit groot bure ore aan

Errol Hurter
Deur die lens van 'n ruimvaartteleskoop van die spits van een van die Namib se hoogste duine, slaan 'n groen skynsel van oorkant die Gariep uit. Absoluut niks te make met 'n reëntjie wat geval het waar 'n droogte alles breek nie. Dis groen vir 'n Jaloers Bokkie. Dis afguns oor hierie Hentiesbaai wat die toekenning van Suider-Afrika se dorp van die jaar voor hul plekkies weggeraap het.
Die grote Potchefstroom, die gewilde Hermanus en die oorskatte Paul Roux en ander kan maar gaan slaap. Namibië se Dawid het 'n kolskoot teen Suid-Afrika se Goliat gegooi, die eerste keer wat dit in die bestaan van die kompetisie gebeur het. Dis soos die keer toe die bleek kampioen van Benoni, Viccie Toweel, bokskampioen teen die wêreld se bestes geword het. Doer in die “States” het niemand blykbaar rekening met die afgeleë Hentiesbaai gehou nie.
Knak toe nou die dag 'n blikkie in Hentiesbaai oor hoe dit kon gekom het. Anders as gewoonlik gaan die gesprek nie oor die dag se vangs of die bak vol vis wat weggekom het nie. Nee, die sinkers word oor die grens gegooi waar die vakansiedorp die toekenning inkatrol het.
Gesels ook met Frans Joubert, kaptein van die span wat die SMS-veldtog gevoer het. Hy sê Hentiesbaai behoort eintlik aan die hele land. Op selfoonondersteuning is van elke Namibiër van die Kunene tot teenaan die Oranje gereken. Hy meen ook elke Suid-Afrikaner wat gereeld hier kom kuier vir 'n vissie aan die hoek het 'n bietjie gehelp. “Hulle skuld Hentiesbaai mos 'n ietsie.”
Ken Hentiesbaai selwers van toeka af. Het daar in die oopte onder die wal geslaap waar die noordduin destyds see se kant toe gebeur het. Kom hoogwater voordag gaan die water opkom en die slapendes roep, omdat dit die tyd is wanneer die vis hier teen dagbreek byt. Het Hentiesbaaiers mos leer ken as vriendelike mense met 'n geil humorsin. Dis mos 'n dorp wat twee baadjies dra. Enersyds is dit 'n aftreeoord vir gryses wat hul ding oor lang jare vir Namibië gedoen het. Die ander baadjie word in die vakansieseisoene gedra wanneer 'n dese en gene op die oord toesak. Vat maar die vakansieseisoen van Desember 2015. Toe het Hentiesbaai van die jong klomp gewemel.
Juis oor die “over sixties” word grappies op die dorp vertel. 'n Predikant sê kom daar 'n nuwe intrekker van onder 70 jaar skryf hy die inkommer in by die kerkjeugvereniging. 'n Ander storie is dat byeenkomste waarby die senior burgers betrokke is, nooit later as die middaguur gehou word nie. Daarna het die gryses 'n afspraak met hul middagslapie en daarna kom die TV se sepies.
Deur die jare heen het baie op Hentiesbaai verander sedert die dae toe 'n renosterjagter op die oase in die vallei tussen die Noord- en die Suidduin afgekom het. Dis ook nie meer die plek waar Hentie van der Merwe sy eerste tydelike kaia opgeslaan het wanneer hy van die binnelandse gewoel wou wegbreek nie.
Woestyn of nie woestyn nie en droog of nie droog nie, is hierdie Hentiesbaai 'n waterskuur van die Erongostreek. 'n Veronderstelling is dat Hentiesbaai se Omdel­skema ook water moet gee vir die mynmanne wat in die Namib grou. Daar word van Hentiesbaai as 'n ­“boererepubliek” gepraat, bedoelende dat dit die plek is waar die landmanne uit die binneland vakansie kom hou. Die boer het ook by die permanente inwoners ingeburger gebly, met van die grootste groente en vrugte wat nog hier in die dorsland in huistuine geoes word. Op die gebied van nywerheid is daar die robaanleg wat help teen die seerowers wat met die hengelbron peuter. Toerisme het 'n groot bedryf geword.
Sien jou teen die einde van Augustus op die Hengelfees. Dis wanneer die groot paartie gehou gaan word. Die wind het gewaai en die see was rof.

Kommentaar

Republikein 2025-08-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer