Trots op Khoekhoegowab
Trots op Khoekhoegowab

Trots op Khoekhoegowab

Maria Eiseb
Maria Eiseb - Khoekhoegowabsprekendes en -kenners het die Verenigde Nasies se agentskap vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (Unesco) se herdenking van Moedertaaldag onlangs in die hoofstad gevier.

Groot getalle Damara- en Namasprekendes het vir die vieringe opgedaag.

Heritage Events Consult and Vision Core was die organiseerders van dié byeenkoms, wat ook opvoeding en ondersteuning ten doel gehad het.

Mnr. Axaro Thaniseb, direkteur van Heritage Events Consult and Vision Core, het gesê met dié soort byeenkomste word daarop gefokus dat sprekers en taal­kenners mekaar in die ontwikkeling en bevordering van die taal ondersteun.

“Daar is baie belangstelling in die ontwikkeling van die taal. Jongmense toon ook belang­stelling daarin - daarom moet hulle ondersteun word,” het hy gesê.

Volgens Thaniseb is sulke ­byeenkomste belangrik omdat dit ouers aanmoedig om hul kinders by skole in te skryf waar die grondslag vir hul moedertaal gelê word.

“As jy aan die begin van jou skoolloopbaan in jou moedertaal opgevoed word, het jy 'n beter begrip daarvan,” het hy ­bygevoeg.

'n Slangvanger en Khoekhoegowab-digter, mnr. Hâ!khai-ob, het die byeenkoms bygewoon en gesê sulke geleenthede skep 'n platform vir belanghebbers, taalkenners en jongmense om mekaar te ondersteun.

“Party mense is skaam en bang om hul taal tussen ander mense te praat. Dit is nie 'n skande om jou moedertaal te praat nie,” het hy gesê.

Volgens Hâ!khai-ob kan meer mense Khoekhoegowab praat as skryf, en is opleiding hierin nodig.

“Daar is ook bitter min boeke in die taal beskikbaar,” het hy gesê.

Khomas se streeksdirekteur vir onderwys, mnr. Gerard Vries, het gesê dit is die vierde byeenkoms in sy soort, en die omvang daarvan is elke jaar groter.

Die opkoms het verwagtinge oortref, het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-08-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer