Tristan ry soos die wind ná Miller uitval

Bergfietsry
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Tristan de Lange het Saterdag ’n indrukwekkende triomf in die Standard Bank Klein- Aus Vista bergfietsbyeenkoms se ultra-afstand (97 km) behaal.
“Tristan se wentyd van vier ure 41 minute is uitsonderlik goed as jy die afstand én die tegniese moeilikheidsgraad van die roete in ag neem,” sê Piet Swiegers, Klein-Aus Vista se bestuurder vir aktiwiteite.
Vooraf is baie uitgesien na De Lange se tweestryd met Alex Miller, die verre suide se plaasseun wat reeds as Namibië se Olimpiese ryer volgende jaar in Tokio aangewys is.
Op ongeveer kilometer 55 het ’n stokkie van omtrent vyf sentimeter in Miller se kuitspier vasgesteek en hy moes vanweë dié besering uit die resies onttrek, ná die twee se kop-aan-kop mededinging aan die voorpunt. Miller moes later ’n dokter op Lüderitz gaan raadpleeg om die stukkie hout uit sy kuit te sny.
“Uit tien ryers vir die 97 km afstand, met 2 050 meter se klim, het drie nie klaargemaak nie en nog drie het eerder na die 64 km afstand afgradeer,” sê Swiegers, wat self vanweë meganiese probleme moes haltroep.
Dit was De Lange se derde oorwinning van dié byeenkoms. Sy eerste seges in 2013 en 2014 is deur wyle Costa Seibeb (2015 en 2016) en Xavier Papo (2017 en 2018) as wenners gevolg.
De Lange het agterna gesê: “Dit is ’n absolute puik gereëlde byeenkoms en die hardste van enige resies in Namibië.
“Dit is ten volle op UCI-standaard en bied die volledige toets vir enige bergfietsryer – afwisseling tussen plat dele, vinnige afdraandes, tegniese afdraandes en stadige, harde klimme.
“Dit is ook ’n hoogs vreugdevolle ervaring van bergfietsry, wat Namibië baie nodig het om te verhinder dat resiese te eenvormig raak. Ek hoop om dit elke jaar by te woon.”
Swiegers sê hy glo Klein- Aus Vista het die wenresep om langafstandresiese van dié aard aan te bied, wat ook in Suid-Afrika bemark kan word.
“Die 64 km afstand is ook uitdagend met klimme en deur wonderlike natuurlandskappe.
Vanweë die tegniese vereiste en afstand is dit ook nie vir beginners nie, maar ons het goeie terugvoering van die deelnemers ontvang.
“Danksy Standard Bank se N$25 000 in hierdie moeilike tye kon ons pryse bied om deelname die moeite werd te maak. Die plaaslike gemeenskap het ook bygestaan met toesighouding op die roete.”

Die uitslae:
Mans 97 km MTB ultramarathon
1 Tristan de Lange 4h41.10
2 Ian Grassow 6h11.00
3 Frikkie van Greunen 6h34.08
4 Frank Snyman 6h36.30
Nie klaargemaak: Alex Miller, Piet Swiegers, Francois Smit.
Mans 64 km volle marathon
1 Hans du Toit 3h36.00
2 Heino Windisch 3h36.02
3 Stefan Bohlke 3h42.20
4 Thorsten Thiele 4h18.14
5 Hanso Diehl 4h33.07
Vroue 64 km volle marathon
1 Elanor Grassow 5h26.05
2 Benita Kasch 5h26.07
Mans 27 km halfmarathon
1 Ivan Martinez 1h34.10
2 Enrique Caseres 2h06.40
3 Renier Taljaard 2h17.52
4 Martinus Kahl 2h21.44
5 Angelo Witbooi 2h25.09
Vroue 27 km halfmarathon
1 Ada Kahl 1h39.43
2 Ester Smit 2h09.00
3 Zelda Louwrens 3h05.28
23 km padwedloop-marathon
1 Thomas Miller (mans) 1h46.44
2 Renata Stoltze (vroue) 2h36.58


2 Renata Stoltze (vroue) 2h36.58

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer