Trio uit buurland gaps eerste plek
Enduro-motorfietsry
Die Suid-Afrikaners Brett Swanepoel, Travis Teasdale en Dwayne Kleynhans is Saterdag noord van Windhoek as die gesamentlike wenners van die 2016 Red Bull Braveman-kompetisie aangewys.
Ná ’n uitmergelende 8 ure 4 minute 18 sekondes het dié driemanskap saam oor die eindstreep gery.
Hulle het nie net die hele tyd saam gejaag nie, maar ook goeie sportmanskap geopenbaar deur mekaar te help waar dit nodig was.
Die wenners is elkeen met 60 minute gepenaliseer nadat hulle ’n wegwyser op die roete gemis het.
Vanjaar was die derde keer dat die kompetisie aangebied is. Vrydag is met ’n proloog afgeskop wat die deelnemers se wegspringposisies vir Saterdagoggend bepaal het. Die ryers moes met die eerste been ’n tydtoets aflê en ’n hindernisbaan oor boomstompe, rotse, watergate en stellasies baasraak om in die vinnigste moontlike tyd die eindpunt te bereik.
Swanepoel, Teasdale en Kleynhans het Vrydag se verrigtinge oorheers en Saterdagoggend om sesuur was dit Swanepoel se beurt om eerste weg te spring, terwyl Teasdale en Kleynhans kort op sy agterwiel gevolg het.
Die tweede skof by die Elisenheim Guest Lodge is enige enduro-ryer se droom en het gruispaaie, sanderige rivierbeddings, klipperige hellings, beboste dele en watergate ingesluit.
Die Namibiër Jürgen Gladis was heel ingenome met sy vertoning nadat hy in die bronskategorie geëindig het. Hy moes die baan in minder as drie ure aflê om te kwalifiseer.
“Ek het verlede jaar sewe ure geneem om die uitdaging te voltooi en het dié keer sommer heelwat beter gevaar. Jy moet kalm bly en probeer om nie kwaad te word wanneer dinge nie vir jou uitwerk nie. Dit put jou net vinniger uit,” het Gladis aan Nampa gesê.
Net 19 van die 32 deelnemers kon die enduro suksesvol voltooi. Die voorste uitslae was:
Goud: Swanepoel, Teasdale en Kleynhans (RSA).
Silwer: 1. Darren Gray 4:45:18, 2. Kirsten Landman 5:45:34 (beide Suid-Afrika), 3. Corné Visser 5:45:37 (Namibië).
Brons: RJ Visser 2:21:55, 2. Martin Diekmann 2:28:44, 3. Gerald Heiser 2:31:05 (al drie Namibië).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie