Tragedie oorskadu Volvo-wu00eareldvaart
Tragedie oorskadu Volvo-wu00eareldvaart

Tragedie oorskadu Volvo-wêreldvaart

Seiljagvaart
Annchen Nel - Dit was heel gepas dat die Hongkongse seilvaartspan, Sun Hung Kai/Scallywag, Vrydagaand sy tuisstad eerste binnegevaar het om die vierde skof van die Volvo-wêreldvaart te wen.

Dit is 'n geskiedkundige oorwinning vir David Witt, die Australiese skipper, en sy span. Hulle moes gedurende die skof verskeie terugslae oorkom voordat hulle die voortou kon neem.

Hulle het die skof van Melbourne af in die vyfde plek begin en was ver agter die ander spanne toe Witt en sy navigator, Libby Greenhalgh, 'n taktiese besluit geneem het.

Hulle het verlede naweek in die Doldrums in die Atlantiese Oseaan besluit om vroeër wes te vaar as die ander seiljagte, wat steeds noord geseil het op soek na sterker wind.

Die skuif het Scallywag die voortou laat neem. Hy het die 6 000 seemyle tussen Melbourne en Hongkong in 17 dae 45 uur en 42 minute afgelê.

Die bemanning van Sun Hung Kai/Scallywag moes verlede Sondag 'n dramatiese reddingspoging uitvoer toe Alex Gough, een van die bemanningslede, oorboord geval het. Hy is binne sewe minute opgepik.

Die spanne se aankoms in Hongkong is Saterdag oorskadu deur 'n ongeluk buite Hongkongse waters.

Die Amerikaans/Deense span, Vestas 11th Hour Racing, het in hul aantog na die stad teen 'n Chinese vissersboot gebots.

Die ongeluk het 30 myl van die eindpunt gebeur, sê die polisie.

Nege bemanningslede van die vissersboot moes uit die water gered word. 'n Tiende visserman is per helikopter na 'n hospitaal geneem, waar hy later gesterf het.

Niemand op die seiljag is beseer nie.

Vestas 11th Hour Racing was voor die ongeluk op koers om tweede te eindig.

Die span het hom ná die ongeluk onttrek aan die Wêreldvaart.

Die Chinese span Dongfeng het tweede geëindig en die Nederlandse Team AkzoNobel derde.

Die Spaanse span Mapfre is steeds die voorloper met 33 punte.

Die bote vertrek op 5 Februarie op die vyfde skof na Guangzhou, China.

Die wedvaart het in Oktober in Alicante, Spanje, begin en die eindbestemming is in Junie in Den Haag.

– Netwerk24/Reuters/ volvooceanrace.com

Kommentaar

Republikein 2025-08-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer