Tour de Windhoek aan­ge­skuif

Die opgeboude frustrasies van inperkings kan volgende maand uiting vind in nog 'n opwindende aanbieding.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Organiseerders van die derde jaarlikse Pupkewitz Tour de Windhoek-fietstoer, wat nou op 23 en 24 Oktober sy finaal bevestigde datum in en om Windhoek gekry het, hoop steeds om moontlik die deelname van Suid-Afrikaanse beroepspanne te laat geskied.

Die toer oor twee dae en 230 kilometer wat uit vier skofte vir mansspanne en 150 km (vier skofte) vir vrouespanne bestaan, is gister in die hoofstad bekendgestel.

Mansspanne kan tussen drie en ses ryers in die veld stoot, terwyl die vrouespanne tussen drie en vyf ryers kan gebruik. Individuele fietsryers is ook welkom om die toer aan te durf, maar net in drie skofte met ’n totaal van 120 km.

In 2018 en 2019 het sterk kontingente Suid-Afrikaanse ryers die Tour de Windhoek kom oorheers.

Volgens alle aanduidinge sou vanjaar se weergawe weens die oorgrens reisbeperkings slegs uit Namibiese ryers bestaan. Die Covid-hokmaatreëls het juis reeds die uitstel van die byeenkoms genoodsaak, wat aanvanklik vir komende naweek en later 2-3 Oktober bespreek was.

Mannie Heymans, ’n organiseerder van die Tour de Windhoek, sê egter hy bly hoopvol dat die buurland se ryers se koms moontlik verseker kan word.

Drikus Coetzee was in 2018 die beste Namibiese ryer, met Ingram Cuff wat verlede jaar dié prestasie behaal het toe Coetzee afwesig was omdat hy in Engeland aan die individuele tydtoets wêreldkampioenskap deelgeneem het.

Coetzee en Cuff is spanmaats in die Hollard-span, wat na ’n sterk vooraf gunsteling lyk tesame met MBM Racing wat op gerekende ryers soos Alex Miller, Hugo Hahn en (op spesiale uitnodiging) Tristan de Lange kan reken.

In 2019 het die Namibiese vroue hul land uiters goed op die podium verteenwoordig met nie minder as ses vroue onder die toptien ryers. Michelle Vorster het die eerste plek losgejaag, met Genevieve Weber derde.

Die algehele toptien vroue verlede jaar was: 1 Michelle Vorster (Pupkewitz Megabuild) 4 ure 07 minute 15 sekondes, 2 Courtney Smith (Customized Cycling-Bioplus) 4:07:51, 3 Genevieve Weber (FLM Ladies) 4:07:53, 4 Michelle Döman (FLM Ladies), 5 Irene Steyn (Hollard myLife), 6 Risa Dreyer (Delush), 7 Courtney Webb (Pupkewitz Megabuild), 8 Antja du Toit (Lumber City Ladies), 9 Anneke Steenkamp (Hollard myLife), 10 Silke Bean (Hollard myLife).

Die programskedule vir 2020:

Vrydag 23 Oktober: Eerste skof 08:00 (Dordabispad) mans 107 km, vroue en individuele ryers 66 km. Tweede skof 16:00: Spantydtoets (Tony Rust-renbaan) mans 15.6 km, vroue 10.4 km.

Saterdag 24 Oktober: Derde skof 08:00 (Tony Rust-renbaan en C28-pad) mans 80 km, vroue en individuele ryers 53 km. Vierde skof 16:00: Kermesse van 45 minute (mans) en 30 minute (vroue) plus een laaste rondte van die 1.7 km-roete.

Laasgenoemde interessante ren spring by Pupkewitz Megabuild in Lazarettstraat weg en draai links in Faraday- en Gutenbergstrate. Die roete swaai by die Snymansirkel kortstondig links in Rehobotherweg en weer links in Mandume Ndemufayo om weer aan die linkerkant by Lazarettstraat aan te sluit.

Individuele ryers kan in die volgende afdelings vir die Tour de Windhoek inskryf: Ope mans- en vroue (19-29 jaar); seuns o.14; meisies en seuns o.16; junior meisies en seuns (17-18 jaar); Subveterane mans en vroue (30-39); Veterane mans en vroue (40-49); meestersmans en -vroue (50-59); grootmeesters mans- en vroue (60 en ouer).

Die prysgeld vir individuele ryers beloop N$1 500, N$800 en N$500 vir die eerste, tweede en derde posisies in hul onderskeie afdelings.

Mansspanne sal om die volgende prysgeld meeding. Algehele klassifikasie: N$10 000 (1ste), 7 500 (2de), 5 000 (3de). Koning van die berge, beste naelryer en beste jong ryer: N$3 000 (1ste), 2 000 (2de), 1 000 (3de) vir elk van dié drie afdelings. Beste span: N$6 000 (1ste), 4 000 (2de), 2 000 (3de).

Prysgeld vir vrouespanne, algehele klassifikasie: N$7 000 (1ste), 5 000 (2de), 4 000 (3de). Koningin van die berge en beste naelryer: elk N$2 000 (1ste), 1 000 (2de), 500 (3de). Beste span: 3 000 (1ste), 2 000 (2de), 1 000 (3de).

Die Pupkewitz Tour de Windhoek word ook deur Radiowave, Windhoek Light Beer en Kickstart Events Hire & Promotions ondersteun, terwyl die Windhoek Pedal Power-padfietsklub, die UCI en die NCF belangrike rolspelers is.

Ryers kan www.today.com.na/events/tour-de-windhoek-2020 besoek om aanlyn in te skryf, of kan 081 203 4231 vir bystand skakel.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer