Topskool gee u00e1lles ondanks Covid-stryd
Topskool gee u00e1lles ondanks Covid-stryd

Topskool gee álles ondanks Covid-stryd

Deur dag en nag te werk, hou 'n skoolhoof haar leerkragte en leerlinge gemotiveer.
Denver Kisting
Denver Kisting



St. Boniface Kollege buite Rundu kraai elke jaar koning as die topskool in veral die gewonevlak-graad 12-eksamens.

Die skoolhoof, me. Mary Phyllis Yesudasan, het gister by navraag aan Republikein gesê hulle sal nie toelaat dat Covid-19 en verminderde onderrig van aangesig tot aangesig dié jaarlikse mylpaal ondermyn nie.

“Ons bestuur die skool op die normale manier,” het sy tydens 'n telefoniese onderhoud gesê.

Hul basiese vertrekpunt is om gehoor te gee aan die regering se maatreëls om die verdere verspreiding van die virus hok te slaan. “Ons vind nie fout met die regering se hantering van die kwessie nie.”

Leerlinge en onderwysers word verbied om binne een meter van mekaar te wees – hetsy in die klaskamer, die eetsaal, die eksamen­lokaal óf in die koshuis, sê sy.

Hande word deurgaans gereinig en die konsekwente en korrekte dra van 'n masker is ononderhandelbaar, het Yesudasan gesê. “Ons ontsmet selfs die pos en laat dit droog word voor ons dit oopmaak. Ná elke maaltyd word die tafels in die eetsaal ook gespuit voor die volgende maaltyd.” sê sy.

Hul graad 10's, 11's en 12's – die enigste leerlinge wat tans by die skool mag wees – is tans besig om eksamen te skryf.

Sy het geen twyfel dat die graad 12's ondanks die verminderde klasonderrig goed sal vaar nie, sê Yesudasan.

Volgens haar behoort hulle nie later as September klaar te wees met die behandeling van die leerplan nie.

Deel van haar strategie is om deurlopend met haar onderwysers te praat “sodat hulle die erns van die saak kan besef. Ons moet dag en nag werk.”

Gevolglik, sê sy, gaan die leerlinge nie vir die komende vakansie huis toe nie. “Hulle bly in die koshuis.”

Toe onderrig van aangesig tot aangesig geheel opgeskort is, het hulle van WhatsApp-groepe gebruik gemaak om onderrigmateriaal met leerlinge te deel en op te volg, sê sy. “Dit was 99% suksesvol.”

Diegene wat nie toegang gehad het tot daardie platform nie, kon by die skool hul materiaal gaan afhaal.

Teen gister is geen leerling of opvoeder nog by St. Boniface “danksy die genade van God” met Covid-19 besmet nie, sê sy.

Sodra 'n leerling enige simptome ontwikkel, word hulle in afsondering geplaas, hul ouers ontbied en dan moet hulle vir 'n Covid-19-toets gaan. “Hulle kom net terug met negatiewe uitslae.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer