Tommy Gun terug in kryt nu00e1 tronkstraf
Tommy Gun terug in kryt nu00e1 tronkstraf

Tommy Gun terug in kryt ná tronkstraf

Boks
Michael Green – Thomas (Tommy Gun) Oosthuizen hoop om op 18 September ’n bietjie verlore glorie te herwin wanneer hy vir die eerste keer weer ná sy tronkstraf gaan boks.
Oosthuizen (33) sal in Pretoria teen Youssouf Kasongo Mwanza van die Kongo in ’n geveg in die junior swaargewigafdeling te staan kom.
Oosthuizen, wat tien maande in die tronk was weens aanranding, oefen nou al vir maande onder die wakende oog van die afrigter Harry Ramogoadi
Oosthuizen, wat tien maande in die tronk was weens aanranding, oefen nou al vir maande onder die wakende oog van die afrigter Harry Ramogoadi.
Mwanza het al voorheen pak gekry teen manne soos Chris Thompson en Akani Phuzi, maar behoort nogtans ’n goeie toets vir Oosthuizen te wees.
Op sy beste was Oosthuizen ’n klompie jaar gelede een van die land se topvegters.
Hy was laas in Maart van 2019 in aksie toe hy teen die Rus Aleksey Egorov verloor het.
• Die vonke behoort intussen Saterdag behoorlik op die Headingley-rugbyligaveld in Leeds, Engeland, te klap waar die veergewigte Josh Warrington teen Mauricio Lara te staan kom.
Lara het Warrington in Februarie in Londen ’n liederlike drag slae gegee en hom met ’n tegniese uitklophou in die negende ronde verslaan.
Al wat ’n mens kan sê, is dat Warrington ’n baie dapper man is om weer saam met die aggressiewe Mexikaan in die kryt te klim.
In een van die voorgevegte kom die indrukwekkende Conor Benn teen Adrian Granados in die weltergewigafdeling te staan.
Hulle sou al teen die einde van Julie teen mekaar geboks het, maar Benn is toe positief vir Covid-19 getoets en moes onttrek.
Daar sal glo 20 000 toeskouers by die toernooi toegelaat word.
– Netwerk24

FOTO
’n Deel van die plakkaat wat 5th Element Promotions se toernooi op 18 September in Pretoria adverteer. Links is Thomas (Tommy Gun) Oosthuizen en regs Youssouf Kasongo Mwanza. Foto Facebook

Kommentaar

Republikein 2025-06-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer