Tokio 2020 – Namibië kwalifiseer!
Die Namibiese Fietsryfederasie het vir die sesde opeenvolgende keer kwalifikasie vir mans na die Olimpiese Spele behaal.
Andrew Poolman - 'n Allemintige spanpoging het gister vrugte afgewerp toe die Namibiese mansfietsryspan 'n plek na die Olimpiese Spele in 2020 in Tokio oopgejaag het.
In die padresies oor 176 kilometer by die Afrika-padfietskampioenskap in Bahir Dar, Ethiopië, het Dan Craven, Drikus Coetzee en Alex Miller se spanwerk en veggees tot die einde die deurslag gegee.
Mekseb Debesay van Eritrea (eerste) en Azzedine Lagab van Algerië (tweede) het die goue en silwermedalje met 'n suksesvolle vroeë wegbreekpoging beklink.
Ná afloop van die uitmergelende 15 baanrondes in versengende hitte, en oomblikke voor die terugvlug via Addis Abeba, het Dan Craven gisteraand aan Republikein vertel: “Die oorblywende peloton het vir die derde posisie resies gejaag. Ek was agtste oor die eindstreep en Drikus en Alex was ook in dieselfde bondel.
“Ons maat Xavier Papo was siek, maar het nogtans uitstekende spanwerk gedoen om 'n groep te help inhaal, voordat hy daarna uitgeval het.
“Dit is die vierde Olimpiese Spele op 'n streep waarvoor Namibiese mans in padfietsry kwalifiseer. Hierdie was die eerste keer dat nie net een Namibiër in die voorste groep van kwalifisering was nie. Dis wonderlik.”
Die kwalifiserende plek word aan die land toegeken – nie aan die ryer nie. Die Namibiese Fietsryfederasie sal dus soos tevore kriteria moet opstel om te bepaal wie gestuur gaan word.
Craven (36) het die land reeds by twee Speles (Londen 2012 en Rio de Janeiro 2016) verteenwoordig, terwyl Drikus Coetzee (25) en die 18-jarige Alex Miller ewe opwindende loopbane voor hulle het.
Die nasionale fietsry-afrigter, Hans du Toit, sê die eerste 50 lande op die wêreldranglys kwalifiseer daarvolgens vir Olimpiese plekke. “Dit sluit Suid-Afrika, Rwanda en Eritrea in, wat dus nie by die Afrika-kampioenskap kwalifisering kan behaal nie. Die twee eerste lande oor die eindstreep wat nie op die bogenoemde manier kwalifiseer nie, verseker elkeen een Olimpiese plek.”
Merkwaardig van Eritrea se sukses in die padresies is dat die Afrika-goud vir mans en vroue deur 'n broer en suster opgeraap is – Mekseb Debesay en sy suster Mosana.
Fietsry en langafstandatletiek of padwedlope is die enigste sportkodes waarin Eritrea nog ooit sportlui na die Olimpiese Spele sedert sy debuut in Sydney 2000 gestuur het.
VROUE
In die vroueresies het Vera Adrian ondanks 'n maagongesteldheid soos 'n kryger geveg om uiteindelik vyfde klaar te maak.
Die 25-jarige Windhoeker kon gevolglik nie haar deurbraaksukses van 2016 herhaal nie, toe sy in Marokko beide die tydtoets en padresies die kontinentale kampioenskap gewen en vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer het.
“Ethiopië is baie mooi en landelik en hard – soos ons resies oor 104 km ook was,” het Adrian agterna aan die koerant gesê.
“Ek het nie goed gevoel nie, want sedert Sondagaand kon ek nie kos in my lyf hou nie. Maandag het ek net Coke gedrink en 'n bietjie rys geëet en (gisteroggend) het ek nie vooraf ontbyt geëet nie.
“Ná omtrent 30 km van ons 104 km resies het drie ryers (Suid-Afrika, Eritrea en Ethiopië) aan die voorpunt weggebreek. Ek het maar konserwatief gery om my kragte vir die einde te probeer spaar. Omdat dit nie Suid-Afrika se sterkste ryer in die wegbreekgroep was nie, het ek ook nie gereken dit sou so bly nie. Maar die gaping het bly vergroot.
“In die peloton het ek, Mauritius en Egipte onsself eers later georganiseer vir 'n terugvegpoging. Ons het saamgewerk en die verskil tot een minuut laat krimp, maar ons was steeds 90 sekondes agter die voorste drie.
“So het dit neergekom op 'n naelrit vir die vierde posisie. Aurelie Halbwachs van Mauritius het ons bietjie verras toe sy reeds 'n kilometer voor die einde aangeval het. Uiteindelik was sy toe net te ver voor ... as die eindstreep dalk nog so 50 meter verder was, kon ek haar dalk gevang het. Maar nou ja, die streep is waar die streep is.
“Ek is verstom dat my liggaam tot soveel in staat was, sonder enige voeding.
“Ek het vooraf baie hard geoefen en was goed op dreef en die roete het my gepas. Ek is bly dat ek ondanks alles wel weggespring het en vyfde is steeds 'n oukei uitslag. Dit kon beter gewees het, maar onder die omstandighede is ek tevrede.”
BERGFIETSRY
Volgende maand se Afrika-kampioenskap by Farm Windhoek is 'n uiters gunstige geleentheid vir Namibië om ook in bergfietsry Olimpiese plekke te verseker.
Met ryers soos Alex Miller, Tristan de Lange, Michelle Vorster en Vera Adrian sal die gasheerland beslis sterk geplaas wees om op die kontinentale vlak medaljes en kwalifikasies te verwerf.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie