Tokio 2020: Junias veg nie Sondag

Olimpiese Spele
Andrew Poolman
Die bokser Junias Jonas sal Sondag net ’n toeskouer wees wanneer die ander liggewigte (57-63 kg) mekaar in die eerste ronde van die Tokio 2020 Olimpiese Spele begin uitskakel.
Die bekroonde Namibiese vegter is een van drie wat te danke aan hul gunstige keuring ’n loslootjie verdien het toe die rondte van 32 se gevegte vir komende Sondag opgestel is.
Jonas – die kampioen van die 2018 Statebondspele en vlagdraer by vandag se openingseremonie in Tokio se nasionale stadion tesame met die roeier Maike Diekmann – sal dus eers op die volgende kompetisiedag vir hierdie gewigsklas (Saterdag 31 Julie) in aksie wees.
Jonas (tweede gekeur), Andy Cruz van Kuba (derde gekeur – wenner van die 2019 wêreldkampioenskap in Rusland asook Pan-Amerikaanse kampioen van 2019) en die topgekeurde Fransman Sofiane Omiha (Olimpiese silwerwenner in Rio 2016; wêreldkampioen in 2017 in Duitsland) is die drietal wat loslootjies het.
Die Namibiër sal gedurende Sondag se aksie kan aanskou hoe John Ume (Papoea-Nieu-Guinee) teen Harry Garside (Australië) opgeweeg word om te bepaal wie sy opponent in die ronde van 16 sal wees.
Ume teen Garside is vir Sondag om 12:54 Namibiese tyd (19:54 in Japan) geskeduleer.
Jonas se openingsgeveg op Saterdag 31 Julie is vir 18:51 in Tokio (11:51 Namibiese tyd) bestem.

FOTO’s deur Anna-Mart Kruger en die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer