Toetskapasiteit verhoog, agterstand grootliks ingehaal
Toetskapasiteit verhoog, agterstand grootliks ingehaal

Toetskapasiteit verhoog, agterstand grootliks ingehaal

Henriette Lamprecht

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê die reuse agterstand in die toets van weefselmonsters vir Covid-19 wat deur die Namibiese Instituut vir Tegnologie (NIP) ervaar is, is grootliks uitgewis. Volgens Shangula het NIP die agterstand van meer as 4 000 weefselmonsters tot op hede tot sowat 1 400 verminder het. Laasgenoemde agterstand sal volgens die minister binne die volgende week ingehaal word. Uitslae van toetse sal dan volgens Shangula binne 24 uur beskikbaar wees.
Dit is danksy die verhoging van die kapasiteit van laboratoriums om vir Covid-19 te toets, met die Sentrale Veaartseny Laboratium wat nou ook dié geriewe, toerusting en personeel vir toetsing beskikbaar gestel het.

Volgens Shangula is onderhandelinge met die Windhoekse munisipaliteit onderweg om verskeie geriewe in gemeenskappe in die hoofstad beskikbaar te stel waar weefselmonsters vir die toets vir Covid-19 versamel kan word.
Dit sluit huidig die Katutura- en Otjomuise-gemeenskapsale in. Oorweging word ook geskenk aan ander gebiede soos Tobias Hainyeko in Hakahana, die munisipale saal in Ombili, sowel as persele in die Samora Machel- en Moses Garoeb-kiesafdelings. Die kliniek by die
Windhoek Sentrale Gevangenis dien ook as ‘n versamelpunt.

Met verwysing na isolasie en kwarantyn het Shangula gesê positiewe ontwikkelings is ervaar danksy regulasies wat bepaal mense kan tuis isoleer of kwarantyn waar omstandighede dit toelaat. As gevolg hiervan het dit tot ‘n beduidende afname in die aantal persone gelei wat hiervoor in kommersiële geriewe soos hotelle, gastehuise en lodges gehuisves is. Dit gevolglik ook kostebesparings vir die regering.

Kommentaar

Republikein 2026-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer