Toets tydelik gestop weens beweerde rassisme
Toets tydelik gestop weens beweerde rassisme

Toets tydelik gestop weens beweerde rassisme

Krieket
Dit blyk rassisme het sy kop in die kriekettoets tussen Australië en Indië uitgesteek.

Stuff berig die polisie het gister ses mense uit hul sitplekke by die SCG verwyder nadat die Indiese snelbouler Mohammed Siraj gekla het dat toeskouers hom rassisties beledig het op die vierde dag van die derde toets in Sydney.

Die besoekers het ook glo minder as 24 uur voor Sondag se voorval aangemeld dat Siraj en sy medebouler Jasprit Bumrah die teikens van rassistiese uitlatings deur dronk toeskouers was.

Die kragmeting is vir meer as 10 minute gestaak nadat Siraj, wat op die grens veldwerk gedoen het, sy kaptein, Ajinkya Rahane, en die skeidsregters Paul Reiffel en Paul Wilson ingelig het dat hy weer onder toeskouers deurgeloop het.

Reiffel en Wilson het na die grens by die Brewongle- en Clive Churchill-paviljoen gestap om met sekuriteitsbeamptes te praat toe die polisie ook op die toneel verskyn.

Die polisie het met verskeie toeskouers gepraat voordat hulle ses mense na die sekuriteitskamer by die stadion vergesel het.

Getty Images het 'n foto geneem van nog 'n toeskouer van dieselfde ry sitplekke wat hom vinnig uit die voete gemaak het voordat die polisie daar aangekom het.

Die ses mans is glo deur die polisie en die hoof van Krieket Australië (KA) se integriteit- en veiligheidsafdeling, Sean Carroll ondervra.

“Krieket Australië veroordeel ten sterkste enige vorm van diskriminasie,” sê Carroll in 'n verklaring.

“As jy rassisties optree, is jy nie welkom in Australiese krieket nie.

“KA wag op die uitkoms van die Internasionale Krieketraad se ondersoek ná die voorval vandag en Saterdag.

“Sodra die skuldiges geïdentifiseer is, sal KA die sterkste moont­like optrede teen hulle neem.”

Hy het die Indiese span en hul ondersteuners om verskoning gevra.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer