Toernooi eindig op antiklimaks

Krieket
Die driehoekige kriekettoernooi in Oman waaraan Namibië en die Verenigde Arabiese Emirate deelgeneem het, het op 'n onvoorsiene wyse geëindig toe die laaste twee wedstryde afgelas is sonder dat 'n bal geboul is.

Ná die afsterwe van die gasheerland se Sultan Qaboos Bin Said voor die naweek is drie nasionale dae van rou verklaar. Dit het meegebring dat die gasheerspan se laaste twee wedstryde (Saterdag teen die Emirate, en gister teen Namibië) waarna baie uitgesien is, in totaal gekanselleer is.

Die 79-jarige sultan Qaboos was sedert Julie 1970 aan die bewind en verreweg die langste dienende staatshoof in die Arabiese wêreld.

Die Internasionale Krieketraad (ICC) het Vrydag in sy aankondiging van die kansellasie van die laaste twee wedstryde gesê besluite sal binnekort in oorleg met die betrokke lande geneem word om dit moontlik te herskeduleer as deel van komende minitoernooie wat deel van die ICC Wêreldbeker Liga 2-reeks (2019 tot 2022) vorm.

Geen ligapunte is dus toegeken vir die naweek se twee wedstryde wat gekanselleer is nie.

Die uiteinde is dat die Emirate as die “wenspan” van die afgelope minitoernooi uit die stryd tree met vier ligapunte, teenoor twee elk vir Namibië en Oman.

Op die individuele ranglys is twee Namibiërs egter boaan beide die voorste kolwers én boulers. Craig Williams (158 lopies) het 'n merkwaardige honderdtal teen Oman aangeteken (129 nie uit nie van 95 balle), terwyl JJ Smit boaan die lys met die meeste paaltjies is (8), een voor Bilal Khan (Oman) en Ahmed Raza (Emirate).

• Namibië se volgende afspraak in die reeks sal op tuisbodem wees, wanneer hy van 20-27 April die besoekende Nepal en Skotland in Windhoek sal ontvang.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer