Toeriste op Kamanjab aangeval
Toeriste op Kamanjab aangeval

Toeriste op Kamanjab aangeval

Francoise Steynberg
Toeriste is Donderdag by twee verskillende kampeerterreine op Kamanjab beroof.

By die Porcupine-ruskamp is toeriste volgens die polisie ook met klippe bestook en met ’n graaf aangerand.

“Drie verdagtes het twee paartjies omstreeks 22:30 wakker in hul tente gevind, hulle aangeval en van hul besittings ter waarde van N$85 100 beroof,” sê die polisie.

“Die verdagtes se voetspore is van die toneel af gevolg en het tot die inhegtenisneming van ’n 23-jarige verdagte, sowat 35 km van Kamanjab af op die hoofpad na Outjo, gelei.”

Die verdagte is glo met van die gesteelde items in sy besit gevind, asook met dié van ander toeriste.

Die ander twee verdagtes is nog op vrye voet en die soektog na hulle duur voort.

By Ann’s-kampeerterrein het drie mense glo by toeriste se voertuig ingebreek en hul besittings ter waarde van byna N$50 000 gesteel.

Volgens die polisie is niemand in hegtenis geneem nie en geen gesteelde items teruggevind nie. Die polisieondersoek duur voort.

GRAFSTEEN KRY VOETE

Drie mans is agter tralies nadat hulle ‘n grafsteen wat in Mei vanjaar na bewering uit die Golgota-begraafplaas in Windhoek gesteel is, glo na sy oorspronklike plek teruggeneem het.

Volgens die polisie het ‘n veiligheidswag Donderdag tussen 09:00 en 10:00 gesien hoe die mans in ‘n private voertuig die begraafplaas binnery en die sogenaamde gesteelde grafsteen weer op sy “oorspronklike” plek terugplaas.

Die drie verdagtes tussen die ouderdomme van 24 en 32 is Vrydag in hegtenis geneem. Een van die verdagtes is glo ’n begrafnisondernemer.

Volgens die polisie is die grafsteen wat verskuif is, se waarde is N$13 000.

Nóg 'n grafsteen van N$5 000 word steeds vermis.

Die verdagtes sou gister in die Windhoekse landddroshof in Katutura verskyn.

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer