Toerismepotensiaal vir verre Noorde
Toerismepotensiaal vir verre Noorde

Toerismepotensiaal vir verre Noorde

Verskeie rolspelers het die onlangse noordelike toerismeforum bygewoon en meen daar moet op erfenis en kultuur gefokus word.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - 'n Taakgroep vir die bevordering van toerisme in die verre Noorde is tydens die noordelike toerismeforum op Oshakati gestig.

Die noordelike toerismeforum, gerig op die vier O-streke, naamlik Oshikoto, Ohangwena, Oshana en Omusati, is deur die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN) op 19 Augustus aangebied en deur 30 rolspelers bygewoon.

"Die bemarking van toerisme in die O-streke fokus veral op kulturele toerisme," sê me. Gitta Paetzold, HAN se uitvoerende hoof.

"'n Toegewyde taakgroep is aan die einde van die toerismeforum gestig om nuwe toerismeprodukte te ontwikkel."

Die groep bestaan uit drie HAN-lede in die akkommodasiebedryf, Ekamuti Town Lodge, Etuna Guest House en Mango Guest House, asook 'n fotograaf en videograaf, 'n backpacker safari-operateur, die ministerie van die omgewing en toerisme se beampte op Ongwediva, en vaardigheidsassessors.

Mnr. Simon Williams van Afri Young Hoteliers sal as die groep se sameroeper optree.

Volgens HAN is insiggewende en inspirerende aanbiedinge deur rolspelers in toerisme gelewer.

Hulle sluit in die adjunk- permanente sekretaris van die omgewing en toerisme, me. Seimy Shidute, die Namibië Toerismeraad (NTB) se bemarkingsbestuurder, me. Maureen Posthuma, en Air Namibia se verkope- en bemarkingsbestuurder, me. Hellena Kapiya-Nathinge, asook verteenwoordigers van die Toer- en Safarivereniging (Tasa) en die Federasie van Namibië se Toerismeverenigings (Fenata).

"Ons het tot die besef gekom beter netwerke moet geskep word en inligting moet uitgeruil word om toerisme in dié streke te bevorder en die unieke aanloklikhede van dié deel van Namibië uit te lig," het Paetzold gesê.

Shidute meen strategiese ingrypings moet innoverende produkontwikkeling insluit met die fokus op erfenis en kultuur.

Die ministerie het die ontwikkeling van plaastoerisme (soos die kommersiële verbouing van maroelapalms), en avontuurtoerisme (soos riviervaarte en visvang by oshonas en waterweë in die Noorde) benadruk, asook die ontwikkeling van kulinêre toerisme (in die vorm van tradisionele kosfeeste).

"Die afgevaardigdes het saamgestem dat volhoubare en veelsydige ontwikkeling en samewerking in die streek nodig is om sukses in toerisme te verseker. Dit vereis noue samewerking met alle rolspelers, soos plaaslike en tradisionele owerhede, want toerisme is almal se besigheid," het Paetzold gesê.

Sy sê hoofstroom- en opkomende toerismeoperateurs het aangedui daar is steeds 'n gebrek aan bewustheid oor bestaande dienste in die streek.

"Opkomende operateurs het erken hulle het 'n gebrek aan insig en kennis van internasionale besoekers se eise en verwagtinge."

Paetzold sê klem is geplaas op die behoefte aan konsekwentheid, betroubaarheid, professionaliteit en effektiewe bemarking, asook egtheid - veral wat kulturele toerismeontwikkeling betref.



Die taakgroep is verbind tot gereelde vergadering en samewerking.

HAN se Toerismehandelsforum in November sal as groter platform dien om die toerismepotensiaal van Owamboland ten toon te stel en te bemark.

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer