Toerisme su00ea bedryf isrgeknak sonder dekking
Toerisme su00ea bedryf isrgeknak sonder dekking

Toerisme sê bedryf is geknak sonder dekking

Hollard en Gondwana Collection verskyn môre in die hof in verband met sy eis van N$360 miljoen.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die uitvoerende hoof van die land se grootste private toerisme­onderneming was amper in trane toe hy gister as deelnemer van 'n webinar die impak van Covid-19 op die ­toerismebedryf uitgebeeld het.

“Die impak is enorm,” het mnr. Gys Joubert van Gondwana Collec­tion Namibia gesê.

Die geleentheid is deur Insurance Claims Africa gereël wat Gondwana se eis teen die versekeraar Hollard Namibia behartig.

Insurance Claims Africa sê hulle is openbare eisfasiliteerders en verteenwoordig meer as 900 eisers in Namibië en in Suid Afrika, wat vir vergoeding vanaf groot versekeringsmaatskappye vir dekking teen sakeonderbrekings weens Covid-19 aansoek gedoen het.

Hollard en Gondwana verskyn môre weer in die hof in verband met sy eis van N$360 miljoen hiervoor.

Joubert sê Gondwana het 12 maande gelede Hollard van die eis in kennis gestel en het reeds in Junie of Julie 2020 by die Namibie­se Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings (Namfisa) 'n amptelike klag van voeteslepery ingedien.

“Ons is op 'n onvolhoubare pad. Ons kan nie verder nie. Ons het nie tyd nie,” het hy die situasie beskryf.

Gondwana het sowat 1 100 werknemers, besigheidspersele in Windhoek en veral in die verafgeleë platteland, insluitend agt gesamentlike ondernemings op kommunale grond en in winsverdelende vennootskap met gemeenskappe op voetsoolvlak, sê Joubert.

Hy sê hulle het spesifiek by Hollard versekering teen katastrofiese risiko's uitgeneem. “Oor 25 jaar moes ons leer uit gebeure soos die aswolk oor Ysland in 2010, 911, SARS en die uitbreking van Ebola. Ons eis nie gereeld nie, maar het getrou betaal vir groot openbare aanspreeklikheidsversekering,” sê hy.



'GROOT OPOFFERINGS'

“Toe die krisis tref, het ons besluit ons veg vir ons mense,” sê hy.

“Tot dusver het ons nog geen afdankings gehad nie, maar almal moes groot opofferings maak, eers van voorregte en daarna salarisverlagings. Almal het salarisverlagings aanvaar met die uitvoerende beamptes met die grootste vermindering. Selfs ons raad werk al meer as 'n jaar lank sonder vergoeding. Dit het solidariteit in die maatskappy gebring,” brei hy uit.

Dr. Rudie van Vuuren en me. Marlice van Vuuren van N/a'an ku sê was ook deel van die webinar.

Dr. Rudie sê die toerismebedryf moet as 'n eenheid die waarheid vertel en 'n stem wees vir die mense sonder stemme. Sy vrou het vertaal toe die Namibiese San en N/a'an ku sê-werknemer mnr. Debe //Ao vertel het hoe hard sy familie en gemeenskap se lewens deur die impak van die pandemie getref is.

“Ons benodig Hollard se hulp om na ons mense, wat worstel teen die Covid-19-rimpeleffek, om te sien,” sê hy.

Marlice sê, “toerisme moet terug kom. Die tekort aan toeriste het 'n geweldige impak en die impak van Hollard se teensinnigheid om vir sakeonderbrekings te betaal, is 'n hartseer storie.”

Intussen vloei die geld vir regskoste soos 'n rivier by die voordeur uit, sê Joubert.

“Moet geregtigheid so vertraag word met al die frustrasie en aggres­sie wat ons mee te doen kry?” vra hy.

“Dit sal verwoesting saai as ons mense moet begin aflê. Ons kyk op die afgrond af,” sê hy.

Hollard se woordvoerder, mnr. Sam Kauapirura, sê vertragings is weens 'n tekort aan assessors en dat die versekeraar aan alle geldige eise sal voldoen. Hy sê Hollard het sowat 70 soortgelyke eise ontvang, maar elke eis is verskillend.

Verder het Hollard Namibia soortgelyke hofbeslissings in Suid Afrika en elders bestudeer, maar omstandighede verskil van dié in Namibië.

“Ons doen als vir die regte uitkoms en werk saam met kliënte om nodige inligting in te vorder. Baie kliënte werk saam met ons en vordering is gemaak om eise te ­bevestig en hoeveelhede vas te stel,” sê hy.

Kauapirura sê môre se hofsaak sal die pad vorentoe met Gondwana se eis bepaal. 

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer