Toerisme Ekspo in November
Toerisme Ekspo in November

Toerisme Ekspo in November

Namibia Media Holdings se jaarlikse Toerisme Ekspo (NTE) en Motorskou vind van 4 tot 7 November by SKW in Windhoek plaas.

Die uitstel van die groot makietie – asook die aanbieding daarvan op 'n splinternuwe wyse – is genoodsaak deur die wêreldwye Covid-19-pandemie.

Die tema is groen energie. Dit is die 22ste aflewering van Namibië se grootste toerismebyeenkoms.

Weens verwagte, voortgesette perke op die aantal mense wat byeenkomste mag bywoon, sal vanjaar se NTE kleiner wees, maar nuwe tegnologie sal ingespan word om almal te bereik wat hier en van buite Namibië se grense wil saamgesels en saamkuier.

Die handelsmerk “Toerisme – 10 Grade Suid” sal formeel by die ekspo van stapel gestuur word om die bedryf in Suider-Afrika en SADC te bevorder as deel van oorgrenswerkskepping en ekonomiese groei. Alle belanghebbendes in die toerismebedryf is welkom om met NMH kontak te maak en insette te gee oor 2020 se NTE.

Die wenner van die Toeris van die jaar-kompetisie, bekend as “Namibia, My Gem”, sal ook by die ekspo aangewys word.

In die unieke kompetisie sal finaliste toerismebestemmings besoek en hul ervarings aanlyn met die publiek deel.

Die borge van die kompetisie is Gondwana Collection Namibia, Journeys Namibia, N/a'an ku sê, Namibia Wildlife Resorts en O&L Leisure.

Vivo Energy verskaf brandstof vir finaliste se reise.

Meer as 70 deelnemers het video-grepe uit hul vorige vakansies ingeskryf om in aanmerking vir die eindstryd te kom.

Kommentaar

Republikein 2026-04-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer