Toerisme bereik laagtepunt
'n Dramatiese daling in internasionale toerisme plaas miljoene se lewensbestaan in gevaar, insluitend in ontwikkelende lande soos Namibië.
Ellanie Smit
Die Verenigde Nasies se Wêreld Toerisme-organisasie (UNWTO) se data bevestig die verliese in die toerismebedryf vanaf Januarie tot Mei vanjaar is reeds meer as tydens diewêreldwye finansiële krisis van 2008-'09.
Die data is die eerste amptelike navorsing wat die impak van die wêreldwye pandemie op toerisme weerspieël.
Volgens UNWTO se wêreldtoerismebarometer het Covid-19-inperkings reeds tot 'n 98% daling in internasionale toeristegetalle in Mei gelei, in vergelyking met verlede jaar. Dit wys ook 'n 56% jaar-tot-jaar-daling in toeristegetalle tussen Januarie en Mei.
Dit beteken 'n daling van 300 miljoen toeriste en 'n inkomsteverlies van US$320 miljard in internasionale toerisme wat volgens die UNWTO drie keer die verlies is as tydens die wêreldwye finansiële krisis in 2009.
Die UNWTO se Vertroue-indeks wys op 'n geskiedkundige laagtepunt vir die tydperk Januarie tot April. Die vooruitsigte vir Mei tot Augustus blyk onveranderd te wees.
“Die nuutste data beklemtoon dat toerisme moet hervat sodra dit veilig is. Die drastiese afname in internasionale toerisme het 'n negatiewe uitwerking op miljoene mense se lewens, veral in ontwikkelende lande,” het UNWTO se sekretaris-generaal, mnr. Zurab Pololikashvili, gesê.
Volgens die Gasvryheidsorganisasie van Namibië (HAN) se statistieke het kamerbesettingskoerse in Namibiese akkommodasiefasiliteite drasties afgeneem.
“Die algemene koers vir kamerbesetting staan tans op sowat 7,71% vir Junie, teenoor die 51,21% in Junie 2019. Tydens die tweede kwart van Junie is die koers slegs op 4,86% in vergelyking met verlede jaar se 53,98%,” het HAN bekend gemaak.
Vooruitsig vir 2021
Die meerderheid van die UNWTO se paneel van toerismekenners is van mening dat internasionale toerisme eers in die tweede helfte van 2021 na normaal sal terugkeer, terwyl 'n kleiner deel van die paneel hoopvol is dat dit aan die begin van volgende jaar sal herstel.
Hoewel sommige lande weer hul toerisme hervat, is die paneel van mening dat daar steeds te veel risiko's is wat verhoed dat mense reis. Buiten reisbeperkinge, Covid-19-regulasies en grense wat steeds in die meeste bestemmings toe is, is dit ook 'n veiligheidsrisiko, omdat die aantal gevalle steeds in sekere lande toeneem.
Nog 'n risiko is dat nuwe inperkings en regulasies enige tyd ingestel kan word. “Regerings oraloor die wêreld moet nou samewerking en solidariteit aanmoedig en nie eensydige besluite neem wat moontlik die vertroue, waaraan ons so hard gebou het, sal ondermyn nie,” het Pololikashvili gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie