Toer deur Suid-Kaap loop nie volgens plan

Bergfietsry
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Sterk vertonings deur die twee Namibiërs Michelle Vorster en Drikus Coetzee is nie beloon in die afgelope Cape Pioneer Trek bergfietstoer oor ses dae en 530 kilo­meter nie.

Vorster en haar spanmaat, die gedugte Aurélie Halbwachs van Mauritius, was vir die eerste drie skofte in die podiumposisies, nadat hulle die eerste dag se skof in die voorste plek voltooi het.

Die paar moes egter voor die vierde skof onttrek vanweë 'n lastige longinfeksie waarmee Halbwachs, tweemalige Olimpiese ryer en gewese Afrika-kampioen op die padfiets, vir drie weke gesukkel het.

Vorster sou bitter graag met 'n goeie eindposisie punte op die ranglys van die wêreldbeheerliggaam, die UIC, wou byvoeg, maar die gesondheid van haar spanmaat moes uiteraard eerste gestel word.

In die geval van Coetzee, wat as solo-ryer ingeskryf het, is sy kanse om op die podium te eindig, basies ook gedurende die vierde skof beëindig toe hy met verskeie pap wiele en meganiese probleme tyd verloor het.

Met tipiese hardnekkige vasbyt het Coetzee nogtans die skof voltooi, al moes hy omtrent vyf kilometer te voet aflê. Coetzee het die toer uiteindelik in die algehele 26de posisie klaargemaak en was agtste van die solo-ryers.

Die Namibiër het 25 ure 32 minute in die fietssaal deurgebring. Die toerwenners Philip Buys en Matthys Beukes het die ses skofte in 21 ure 14 minute voltooi.

Nog 'n Suid-Afrikaner, Andrew Johnson, was die solowenner (22 h 51 min) voor sy landgenote Andrew Stockwell en Gregory Harrup.

Coetzee se deelname het belowend begin toe hy ná die tweede en derde skofte algeheel tweede geplaas was.

“In die laaste drie skofte het ek elke dag bitter baie tyd verloor en gesukkel om die eindstreep te haal. Ek was die laaste drie skofte in baie goeie posisies om vir 'n skofsege te jaag, maar tydens skofte 4 én 6 het 'n gesnyde band my vordering belemmer,” vertel hy.

“In die laaste skof 20 km voor die einde het ek nóg 'n groot meganiese probleem opgedoen en ek kon nie ratte verander in die bergagtige terrein nie en moes dit op een rat klaar ry.

“Skof 5 het geëindig met 'n steil klim tot aan die bopunt van die Swartbergpas. Die weersomstandighede het die organiseerders egter gedwing om die skof vir die agterryers te verkort weens sterk wind, reën en kapok met 'n temperatuur van -1 grade Celsius.”

Coetzee het ná skof 5 'n spesiale toekenning gekry vir die mees vasberade ryer vanweë sy uitsonderlike inspanning om die skof te voltooi.

Die natuurskoon van die Suid-Kaap is nietemin 'n groot pluspunt vir die Cape Pioneer Trek, wat op Mosselbaai begin en op Oudtshoorn eindig.

Vorster en Coetzee word beide deur die Janine en Suzelle Davin Sporttrust ondersteun.

Vorster sal ook aan die Wines to Whales-toer deelneem wat komende Vrydag begin. Haar spanmaat vir dié driedaagse toer is Robyn de Groot, een van Suid-Afrika se voorste vroue­ryers.

Kommentaar

Republikein 2025-08-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer