Toekomsgerigte politiek is nodig
Toekomsgerigte politiek is nodig

Toekomsgerigte politiek is nodig

Mandy Rittmann
WILLEM DE WET SKRYF:

Ek dink dis Langenhoven wat die volgende kwytgeraak het:

“Dit vat twee om te stry, al is een stil,

Dit vat ook twee om te vry, al is een kil!”

So vry die politici na stemme en na die verkiesing raak hul kil, en as die volk dan wil stry oor die leë beloftes, dan is hul stil.

Die ironie van die saak is dat politici net sigbaar en hoorbaar raak wanneer hul poste in gedrang kom en die hartseer is dat die stemvolk elke keer daarvoor val. Selfs ’n donkie stamp sy kop nie twee maal teen dieselfde klip nie, maar die sogenaamde slim mensdom doen dit keer op keer met eentonige reëlmaat en in die proses raak die politici onaantasbaar in hul selfvertroue en hul vraatsugtige korrupte gejaag na selfverryking en eie gewin ten koste van die wat hulle op hul troontjies hou.

Dis soos die storie van die donkie en die brug. Donkies sleep die kar onder ’n laagwater brug deur, maar toe die donkies se ore bo raak, steek hulle vas en weier om deur te loop. Drywer haal toe maar gereedskap uit en begin kap vir elke donkie se ore twee slote bo in die konkruit in, sodat die ore kan deurkom sonder om te raak. Bystander maak die voorstel dat dit makliker sal wees om die sand onder uit te grou, dan sak die hele span af en kan vry onder deurkom. Drywer vervies hom vir die raad en snou die man toe dat hy hom liewer moet bepaal by sy eie probleme, want dit is nie die donkies se voete wat skuur nie, dis hulle ore.

Ons soek die foute vir die nasie se swaarkry en so ook die oplossings op die verkeerde plekke.

Die oplossings lê nie in die verlede nie, maar wel in dit wat nou gebeur en dit wat môre moet gebeur en daarvoor het ons die regte planne en leiers nodig en nie die lot wat tans alles op die verlede blameer en die land besteel en niks doen om die man op straat se lewe beter te maak nie.

Kies die regte mense om ons vorentoe te vat en los die klomp wat in die verlede lewe in die verlede.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer