Toe goed nog gehou het
Toe goed nog gehou het

Toe goed nog gehou het

Tielman van Lill
Tielman van Lill - Ek dink dinge en die lewe as kind was vir my baie eenvoudiger en lekkerder gewees as wat nou die geval is.

Driekwart of meer van Laerskool Maltahöhe se leerlinge was in my tyd plaaskinders wat van oraloor uit die distrik by die koshuis op ‘n Sondagnamiddag kom aflaai is. Dit sluit nou al wat snotneus sub-aaitjie en kind is in wat haar of sy regmatige plekkie by die koshuis moes kom volstaan.

Dan het jy soms, of dalk meer as gereeld tranerige ma’s gekry wat daar langs haar ruwe boer in die bakkie sit terwyl hy ongesiens ewe braaf op sy tande kners en die verte in tuur. So asof hy vir reent kyk wat nie daar is nie.

Net so dat sy sagte lyfie daar neffens hom nie moet sien haar ou beer het ook gevoelens nie.

Van gevoelens gepraat: Ek verstaan dat sommige, net sommige mans ook ‘n gevoel het. Hulle kan byvoorbeeld voel hulle raak honger en sulke tipe van goeters. Maar dit nou daar gelaat.

Mans van daardie jare het rof en ru grootgeword. Pa Ponie is in 1916 gebore en hy was maar 10 jaar oud en die oudste van die seuns toe oupa Tielman oorlede is. Hy rus steeds hier in Windhoek se ou begraafplaas. Ons almal se pad.

Ouma Betta het met vyf seuns en nog ‘n spulletjie dogters op die plaas gesit wat sy moes dissiplineer en opgevoed die lewe instuur. Dis manne daai wat ‘n wilde perd kon vang en bloots moeg jaag nog voordat hulle behoorlik kon kruip.

Skiet, skaap oppas en werk. Waterputte is met pik en graaf gegrawe. Niks het vir hul hande verkeerd gestaan nie.

Ouma Betta moes ‘n ystervrou gewees het om vyf seuns te kon hanteer. Ek glo die ou spulletjie moes gereeld riemspring. En toe hulle ouer geword het, is die ooms van die familie nader getrek om die nodige dissipline met ‘n osriem by die wilde spul seuns tuis te bring.

Ons het sulke tannies by die koshuis gehad wat vir elke baketel moes instaan. Koshuismoeders het ons koshuisbrakke hulle genoem. Hulle kon enige kleintjie se seer en trane somme vinnig reg dokter om binne oomblikke weer tussen sy maters te gaan baljaar.

Hulle was sieketroosters, snoepiemeesters (daar waar jou kostrommel toegesluit is vir namidae ná studie se eetdingetjie), ‘n sersant-majoor, raadgewers (as jou kys jou gelos het of jy na jou ma of eintlik meer die plaaslewe verlang het) en streng dissiplinêre toepassers gewees om al wat vuil skoen, ongeborselde kop of tanne, ‘n onnet bed of ‘n deurmekaar kas reg te stel.

Luister het jy geluister, anders het jou agterent daar by die koshuisvader gebrand, wat sommer ook die skoolhoof was.

Daar was geliefde tannies, en minder geliefde tannies wat nooit werklik ingepas het nie. Ek onthou van ‘n paar keer wat ‘n gebroke hart ‘n ma met ‘n telgie of twee na ons ou dorpie gedryf het om te vlug van die seer en onreg wat haar elders deurboor het.

‘n Seer wat tasbaar soos ‘n bose sweer op haar gelaat gesit het.

Afstand en tyd is ‘n wonderlike geneesmiddel.

In die ou tyd het dinge gehou. Huwelike het gehou. Vriendskappe het gehou. Karre het gehou. Ons het net oor ‘n Ford of ‘n Chev gestry en as dit rugbytyd was, het Noord-Transvaal en WP aan die beurt gekom waarna ons op die draadloos se kortgolfsender moes luister.

Dalk kon ‘n mens dit eerder Radio Skoonveld noem. Soms was daar ‘n mannetjie wat die Vrystaat geopper het, maar hy is vinnig uit sy rugbyonkunde verlos. Ons het oor Kallie Knoetze, die Bek van Boomstraat, en Gerrie Coetzee gestry, maar was steeds dik pelle. En ons het die lokasie se donkies gery wat snags op die skool se grasperke kom wei het.

Soos die skooljaar gevorder het, het sekere giere na vore getree. Vir ‘n paar weke loop al wat kind is met ‘n tol net om die Maandag met ‘n bekfluitjie by die skool op te daag. Rugbytyd is dit ‘n rugbybal of ses wat sy opwagting maak en pouses word daar “drywings” gespeel om te sien wie skop die verste.

Dit was lekker, eenvoudig en goed het gehou.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer