Tjoekie toe met Chinese
Tjoekie toe met Chinese

Tjoekie toe met Chinese

Smokkelaars gaan appèl aanteken
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die vier Chinese smokkelaars van 14 renosterhorings en ’n luiperd­vel gaan tronk toe.

Landdros Alexis Diergaardt het Vrydag in die Windhoekse streekhof gevangenisstraf aan die vier opgelê sonder die keuse van ’n boete. Sy het Li Xiaoliang (32), Li Zhibing (55), Pu Xeuxin (51) elk tot 14 jaar gevangenisstraf, waarvan 30 maande opgeskort is vir vyf jaar, gevonnis. Wang Hui (41) se vonnis is ook 14 jaar gevangenisstraf, waarvan 28 maande opgeskort is vir vyf jaar.

“Dit is op voorwaarde dat julle in dié tydperk aan geen oortredinge van die uitvoer, besit en handel in beheerde wildprodukte skuldig bevind word nie,” het die landdros gesê.

Die vonnis is strawwer as staatsaanklaer Simba Nduna se versoek Donderdag tydens sy vonnisvoorlegging van ses jaar tronkstraf, waarvan twee jaar opgeskort is.

Die vier is skuldig bevind aan die poging tot uitvoer van 14 renosterhorings en ’n gebreide luiperdvel wat hulle op 24 Maart 2014 vanaf die Internasionale Lughawe Hosea Kutako probeer uitsmokkel het.

Diergaardt meen daar moet ’n duidelike boodskap aan die internasionale gemeenskap uitgestuur word dat sulke misdade nie in Namibië geduld sal word nie: “Renosters is ’n beskermde spesie. Oortreders kan nie net ’n boete betaal, teruggaan na hul lande, terugkom en wéér sulke misdade pleeg nie.”

Sy meen renosters is op die rand van uitwissing en die vonnis moet as afskrikmiddel vir die wêreldwye gemeenskap dien.

“Ek hoop julle verstaan die erns van die misdaad en die gevolge wat dit vir die hele land het. Die wildlewe ly daaronder en die gemeenskappe ly verliese.”

Diergaardt sê sy verskil van die verdediging se mening dat poging tot uitvoer van beheerde wildprodukte nie dieselfde is as onwettige jag nie.

“Ek verskil van die opinie, want die besit, handel en poging tot uitvoer van beheerde wildprodukte lei tot die bevordering van die stropery van hierdie diere.”

Die landdros sê die statistieke van die renosterhorings is van toepassing, met twee horings wat van ’n gestroopte renoster afkomstig is.

“Die oorsprong van die horings is nie ’n kwessie wanneer dit by die vonnis kom nie, maar Namibië huisves 95% van die swartrenosterbevolking. Wat belangrik is, is dat die beskuldigdes nie die horings sonder onwettige misdade kon verkry het nie.”

VOORBEDAGTE MISDAAD

Diergaardt meen hulle het nie uitvoerpermitte vir die horings gehad nie; die horings is inderdaad van renosters wat op die rand van uitwissing is.

“Die blote besit van horings en die poging tot uitvoer is baie ernstiger as renosterstropery. Al het hulle nie die renosters gestroop nie, het hulle die kwessie verder gevat en gepoog om die horings uit te voer.”

Die landdros meen wat nóg ernstiger is, is dat hulle van ’n ander land gekom het met die doel om renosterhorings uit Namibië te smokkel, waar hulle genoeg tyd gehad het om dit te heroorweeg.

“Hulle het geen respek vir die wet nie, het hul missie gefinaliseer en ongelukkig vir hulle is hulle op die lughawe gevang. Dit is ’n voorbedagte misdaad.”

Volgens Diergaardt het hulle tot aan die einde hul misdaad ontken, behalwe Li Zhibing wat skuldig gepleit het, daarom het sy besluit om hulle dieselfde vonnis op te lê.

Sy verskil ook van die verdediging dat aangesien die renosterhorings teruggevind is geen verliese gely is nie: “Dit is nie korrek nie. Die oomblik toe hierdie diere gestroop is, was daar ’n verlies, asook ’n verlies vir die toerismebedryf.”

Die regsverteenwoordiger van die Chinese, mnr. Orben Sibyea, het aangedui hulle gaan appèl aanteken.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer