Tjiuee lei toetsspan teen Uganda

Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die 25-jarige Tjiuee Uanivi word komende Saterdag in sy 17de toets vir die eerste keer die rugbykaptein van Namibië.
Die lenige slot neem in die Afrikabeker-wedstryd teen Uganda in Kampala as die spanleier waar in die plek van die Blou Bulle se agtsteman Renaldo Bothma, wat vanweë provinsiale verpligtinge nie vandeesweek beskikbaar is nie.
Uanivi, wie se rugbywortels by Trustco United lê voordat hy deur Brive (Frankryk) en die Sharks raakgesien is, was ’n uitblinker in die 2015 Wêreldbekertoernooi en sy plek in die beginspan is gevolglik nie in twyfel nie.
Vir Namibië is die mikpunt in die Afrikabeker om die titel te behou wat in 2015 teruggewen is.
Op die minste moet afrigter Phil Davies se span verseker dat hulle onder die topvier spanne in die Afrika 1A-afdeling bly. Dit is hier waar die 2017-weergawe beslissend sal wees om die vasteland se kwalifiseerder vir die 2019 Wêreldbeker in Japan te bepaal.
Die terugkeer van Chrysander Botha as ’n vleuel is nog een van die ­opvallende kenmerke vir die span teen Uganda. Botha was nie vir die onlangse Nasiebeker in Roemenië beskikbaar nie, maar met 38 toetse en 16 drieë kry die veteraan van twee Wêreldbekers kans om weer sy waarde op die veld te wys.
Net agt spelers sal op die reserwebank wees, hoewel twee ekstra spelers saamgeneem word om voorsiening vir moontlike laat ­beserings te maak en die ongerief te voorkom dat laat plaasvervangers dalk ingevlieg moet word.
Namibië se spelersgroep teen Uganda:
15 Johann Tromp, 14 Chrysander Botha, 13 JC Greyling, 12 Johan Deysel, 11 Gino Wilson, 10 Theuns Kotze (o.kapt), 9 Eugene Jantjies, 8 Leneve Damens, 7 Tinus du Plessis, 6 Rohan Kitshoff, 5 Tjiuee Uanivi (kapt), 4 Janco Venter, 3 AJ de Klerk, 2 Gerhard Lötter, 1 Casper Viviers.
Reserwes: Louis van der Westhuizen, Collen Smith, Quintin Esterhuizen, Ruan Ludick, Muniovita Kasiringua, Arthur Bouwer, Darryl de la Harpe, Heinrich Smit, Justin Nel, Hauta Veii.
Vandeesweek se nie-reisende lede van die spelersgroep vir die 2016 ­Afrikabeker is Renaldo Bothma (wel beskikbaar vir Zimbabwe se koms op 6 Augustus), Shaun du Preez, Torsten van Jaarsveld (beskikbaar teen ­Zimbabwe), Aranos Coetzee (beskikbaar teen Zimbabwe), Wian Conradie (beskikbaar teen Zimbabwe asook vir Kenia se koms op 16 Julie), Damian Stevens, Malcolm Moore en Russell van Wyk.
Die kortlys bestaan uit die stut Hans Breedt en die agterspelers Cameron Klassen, Aurelio Plato, MP Pretorius, Francois Wiese en Phillip Nashikaku.
Spelers wat tans onbeskikbaar is, is die beseerdes Conrad Marais, David Philander, Roderique Victor en Thomasau Forbes, asook PJ van Lill wie se vrou binnekort hul eersteling verwag.
Afrigter Phil Davies word vergesel deur die ondersteuningspan Roger Thompson (verdedigingsafrigter), Danie von Solms (spanbestuurder), Wayne Proctor (krag en kondisionering), Stuart Lewis (spelontleder), Aidan Fredericks (spandokter) en Randall Louw (fisioterapeut).
Die groep vertrek môreoggend uit Windhoek.

Kommentaar

Republikein 2025-12-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer